Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Staatsrede: Dís hoe dit werk

Die staatsrede word allerweë beskou as die hoogtepunt op die politieke kalender in Suid-Afrika wanneer die president die geleentheid kry om die agenda vir die jaar te stel.

Benewens die president se toespraak en die tierlantyntjies op die rooi tapyt, volg dié tradisieryke geleentheid ook streng seremoniële prosedures wat uit die apartheidsera en selfs vroeër dateer.

Luidens ’n verklaring deur die parlement, wat die volgorde van gebeure in besonderhede uiteensit, is die staatsrede steeds op die Westminster-tradisie, ’n oorblyfsel uit die koloniale era, geskoei.

Ingevolge die wet word die staatsrede deur die president byeengeroep, waarvolgens die twee huise van die parlement, die Nasionale Vergadering (NV) en die Nasionale Raad van Provinsies (NRD), byeenkom.

Die NV en die NRD is daarvoor verantwoordelik om wetgewing op te stel en deur te voer.

Die staatsrede is een van die min geleenthede waarop al drie sfere van die regering; die kabinet, die parlement en regbank, saam teenwoordig is. Uitgekose gaste en lede van die burgerlike samelewing woon ook die spoggeleentheid by.

Hoekom die staatsrede belangrik is

Luidens die parlement gee die staatsrede die president die geleentheid om die nasie toe te spreek oor die algemene toestand van Suid-Afrika, om te reflekteer oor politieke, ekonomiese en maatskaplike kwessies, om terugvoering oor die werk van die regering te gee en om die regering se planne bekend te maak. In kort stel hy die agenda vir die jaar.

Die parlement moet seker maak dat die prioriteite wat in die staatsrede belig word, toegepas word. Die staatsrede raak ook hoe begrotings aan staatsdepartemente toegeken word omdat hy moet seker maak dat die begrotings met die prioriteite in die staatsrede strook.

Die staatsrede vind gewoonlik in Februarie elke jaar in die parlement in Kaapstad plaas en die speaker van die parlement of die voorsitter van die NRD hou toesig oor die verrigtinge.

Ander lande soos Australië, Indië en Botswana het ook ’n “staatsrede”, hoewel die benaming verskil.

Die seremoniële aspekte

Die amptelike program begin met drie optogte. Daar is ’n optog van die provinsiale speakers, provinsiale premiers en die regbank na die parlementêre saal deur die hoofingang van die parlementsgebou.

Daarna sal die presidensiële ruiterstoet by die parlement opdaag. Die president sal opdaag nadat hy deur die aide-de-camp, wat slegs ’n seremoniële funksie het, van sy woning na die parlement begelei word.

Die aide-de-camp begelei die presidensiële prosessie na die trappe van die parlementsgebou om die seremoniële eerbewys te ontvang.

Gevolglik sal die Nasionale Seremoniële Wag 21 geweerskote skiet terwyl die prosessie op aandag staan en die nasionale volkslied gespeel word.

Die Nasionale Seremoniële Wag begelei dan die prosessie deur die hoofingang op pad na die saal. Op pad vorm erewagte en belangrike mense ’n erewag.

In die parlement se saal

Almal in die parlement se saal moet hul sitplekke inneem voordat die prosessie die saal binnekom.

Elk van die nege provinsies word deur tien lede verteenwoordig. ’n Delegasie van tien plaaslike regeringslede is ook teenwoordig.

Verteenwoordigers van statutêre en grondwetlike liggame, die regters-president, provinsiale speakers, direkteur-generaals van staatsdepartemente, uitgekose gaste van die burgerlike samelewing, asook personeel van die presidensie en die parlement sit in die galery.

Imbongi

Die imbongi, oftewel lofsanger, is ’n nuwe element wat by die staatsrede sedert demokrasie gevoeg is om ’n Suid-Afrikaanse “geur” aan die verrigtinge te verleen.

Die oomblik wanneer die president die saal betree, sal die imbongi van die president se persoonlike geskiedenis en herkoms vertel.

Die stafdraer en die begeleiers van die swart roede

Die stafdraer en die begeleiers van die swart roede is verantwoordelik daarvoor dat die veiligheidsbeleid in die saal toegepas word, maar het grootliks ’n seremoniële funksie.

Die parlementêre polisie, ook bekend as die wit hemde, is verantwoordelik om veiligheid en orde te handhaaf.

Die stafdraer plaas die ampstaf voor die speaker van die parlement terwyl die begeleiers van die swart roede dié staf voor die voorsitter van die NRP plaas.

Die stawe dien as ’n simbool van die speaker en die voorsitter se outoriteit.

Die begin van die verrigtinge

Die toesighoudende beampte, gewoonlik die speaker, doen verwelkomings en vra vir ’n oomblik van stilte, waarna sy die president sal roep om sy staatsrede te lewer.

Nadat die president sy toespraak gelewer het, word die sitting verdaag. Lede gee die presidensiële prosessie geleentheid om die saal te verlaat.

In vorige jare sou ’n gala-ete ná die staatsrede vir lede van die parlement en uitgekose gaste aangebied word, maar in die lig van die parlement se pogings om koste te bespaar sal die ete nie vanjaar plaasvind nie.

Die debat oor die staatsrede

Lede van alle partye sal in die week ná die staatsrede in ’n debat oor twee dae die geleentheid kry om hul menings te gee. Op die derde dag sal die president die geleentheid kry om te reageer en die debat te sluit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.