Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Staatsrede: Dis tyd vir daad by die woord, sê Agri SA
Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA.Foto: Verskaf

Pres. Cyril Ramaphosa se verbintenis om Suid-Afrika se verswakkende ekonomiese groei om te keer, is positief en sal ook tot voordeel van landbou in geheel wees, sê Christo van der Rheede, uitvoerende adjunkdirekteur van Agri SA.

Hy sê Agri SA hoop van harte dat die president en sy onderskeie ministeries en departemente in die komende jaar die daad by die woord sal voeg.

“Dié staatsrede moet gesien word teen die agtergrond van grootskaalse korrupsie, ’n verswakkende ekonomie, die aftakeling van instellings en die haglike toestand van staatsbeheerde maatskappye soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL),” sê Van der Rheede in ’n verklaring.

Omri van Zyl, Agri SA se uitvoerende direkteur, sê hulle stem saam met Ramaphosa dat die landboubedryf groot potensiaal vir groei toon.

“Dit is egter jammer dat die president nie méér aandag aan die landbousektor in sy staatsrede gegee het nie. Hy het verskeie planne uitgelig, maar nie genoeg besonderhede oor die praktiese uitvoerbaarheid daarvan nie,” sê Van Zyl.

Hy sê dit is kommerwekkend dat Ramaphosa ook nie verdere besonderhede vir droogtehulp en praktiese oplossings vir die voortslepende droogte, wat steeds verskeie provinsies tot hul knieë dwing, bekend gemaak het nie.

“Hy het ook geen melding van die toenemende geweldsmisdaad in landelike gebiede en oorgrensmisdade gemaak nie,” sê Van Zyl.

Hy sê boere is onder druk weens beleidsonsekerheid en die uitwerking van onder meer dreigende grondonteiening sonder vergoeding, misdaad en droogte.

Dit is egter jammer dat die president nie méér aandag aan die landbousektor in sy staatsrede gegee het nie. Hy het verskeie planne uitgelig, maar nie genoeg besonderhede oor die praktiese uitvoerbaarheid daarvan nie.

Die president moet genoegsame ondersteuning aan die landbousektor bied om volhoubaarheid en voedselsekerheid te verseker, sê Van Zyl.

Agri SA is ook baie bekommerd oor die negatiewe invloed wat beurtkrag op die primêre landbousektor, die voedselwaardeketting en die Suid-Afrikaanse ekonomie kan hê.

Dis is wel bemoedigend dat die president die toekenningsproses vir waterlisensies gaan versnel en dat hy hom daartoe verbind het om werkskepping in die landbousektor aan te moedig.

Volgens Van der Rheede moet die opbou en herstel van die ekonomie nou op die voorgrond geplaas word. “Ons moet beleidsekerheid hê om beleggers na ons sektor en Suid-Afrika in geheel te lok,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.