Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Staatsrede: Hoe grond gevat kan word in wet uiteengesit

Die omstandighede waaronder grondonteiening sonder vergoeding toelaatbaar gaan wees, gaan in ’n nuwe weergawe van die Onteieningswetsontwerp uiteengesit word.

Pres. Cyril Ramaphosa het dié aankondiging Donderdagaand in sy staatsrede gedoen. Hy het ook gesê die sleutelaanbevelings van die presidensiële raadgewende paneel oor grondhervorming en landbou om onder meer die herverdeling van grond te versnel en landbouproduksie uit te brei, gaan vanjaar toegepas word.

“Die regering staan gereed, ná die afhandeling van die parlementêre proses om art. 25 van die Grondwet te wysig, om ’n Onteieningswetsontwerp in die parlement ter tafel te lê wat die omstandighede gaan uiteensit waaronder grondonteiening sonder vergoeding toelaatbaar gaan wees,” het hy gesê.

Altesame 44 000 ha staatsgrond vir die afhandeling van grondeise is tot dusver beskikbaar gestel en 700 000 ha staatsgrond gaan vanjaar vir landbouproduksie beskikbaar gestel word.

Jeugdiges, vroue en mense met gestremdhede asook diegene wat op gemeenskaplike grond boer en gereed is om hul bedrywighede uit te brei, sal voorkeur geniet vir opleiding en die toekenning van grond.

’n Nuwe beleid om begunstigdes te kies sluit verpligte opleiding vir potensiële begunstigdes in voordat grond aan hulle toegeken kan word.

Ramaphosa het ook daarop gewys dat landbou een van die sleutelbedrywe met die potensiaal vir groei is.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF-Plus, sê die Onteieningswetsontwerp is nie ’n nuwe ding nie. ’n Vorige weergawe van dié wetsontwerp wat in die parlement ter tafel gelê is, is vroeër teruggetrek.

“Hulle gaan die voorwaardes in die wet uiteensit waaronder grond sonder vergoeding onteien kan word. Daar is ’n groot gevaar daarmee, want ’n wet kan gewysig word met ’n 50% meerderheid in die parlement, terwyl die Grondwet slegs met ’n tweederdemeerderheid verander kan word,” het Groenewald Donderdagaand gesê.

“Ek is nie so seker na wat ek vanaand gesien gebeur het, dat die ANC wel sy tweederdemeerderheid saam met die EFF gaan kry vir die wysiging van art. 25 van die Grondwet nie.”

Daar is ’n groot gevaar daarmee, want ’n wet kan gewysig word met ’n 50% meerderheid in die parlement, terwyl die Grondwet slegs met ’n tweederdemeerderheid verander kan word
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF-Plus

Mkhuleko Hlengwa, IVP-woordvoerder, het in reaksie gesê die Grondwet is voldoende.

“Wat ontbreek is politieke wil om die Grondwet toe te pas. Dit is om ’n lang ompad te neem om by ’n bestemming uit te kom wat voor jou staan. Die Grondwet is voldoende en daar is sekerlik geen rede om soveel tyd te mors soos ons tans doen nie. Wat die probleem is, is die bestuur van art. 25.”

Marie Sukers, ACDP-LP, het op haar beurt gesê dié party is nie ten gunste van grondonteiening sonder vergoeding nie omdat dit die land nog verder sal destabiliseer.

“Sy sê egter dit is goed dat die president voorwaardes uiteengesit het dat diegene wat nie voorheen bevoordeel was met grond nie – die agtergeblewe gemeenskappe – opleiding sal ontvang om die grond te bewerk.

“Ek dink dit is die positiefste wanneer dit kom by die grondkwessie en die teruggee daarvan. Die projekte wat ons die afgelope 25 jaar gesien het, wat letterlik duisende miljoene rand gekos het en niks van gekom het nie, het grootskaalse negatiewe uitwerkings gehad.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.