Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Staatsrede in syfers – dít is waarop Cyril gehamer het

Die ekonomie en kragverskaffing is die kwessies waarop pres. Cyril Ramaphosa waarskynlik die meeste met Donderdag se staatsrede gefokus het.

Dit is gevolg deur werksgeleenthede, die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), grond en onderwys.

Pres. Cyril Ramaphosa lewer Donderdag die staatsrede in die Nasionale Vergadering. Foto: Jaco Marais

Ramaphosa het minstens 20 keer in sy toespraak na die ekonomie verwys.

Daarna is werksgeleenthede 13 keer genoem en Eskom 12 keer, terwyl hy ook na beurtkrag en energie verwys het.

Verder het die president ses keer in sy toespraak na “aksie” en “geweld” verwys en vyf keer na “hoop”, “drome”, “werkloosheid” en “landbou”.

Staatsondernemings en misdaad is vier keer genoem, korrupsie twee keer en staatskaping slegs een keer.

Ramaphosa het egter nie in die staatsrede spesifiek oor moord, plaasmoorde of die onteiening van grond ’n woord geuiter nie.

Hy het ook per abuis na die sakeman dr. Johan van Zyl as “Van Zyl Slabbert” verwys, terwyl dié van nie in sy toespraak verskyn het nie. Ramaphosa het hom waarskynlik verspreek. Dr. Frederik van Zyl Slabbert, voormalige politikus, akademikus en politieke ontleder, wat ook as kanselier van die Universiteit Stellenbosch gedien het, is in 2010 dood.

Die president het gesê goeie vordering word gemaak met die gesamentlike inisiatief van die openbare en private sektor wat deur Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Roelf Meyer, politikus en sakeman, en Van Zyl gedryf word.

Met dié projek word gepoog om ’n sterker vennootskap tussen die staat en private sektor aan te moedig om belegging en werkskepping te bevorder.

Pres. Cyril Ramaphosa met sy aankoms Donderdag by die parlement in Kaapstad voordat hy die staatsrede gelewer het. Foto: Jaco Marais

Die tienjaarplanne

Luidens die staatsrede word dié ingrypings vir die volgende tien jaar voorgestel om armoede, werkloosheid en ongelykheid die hoof te bied.

Dit sluit in dat niemand in Suid-Afrika sal honger ly nie, die ekonomie vinniger as die bevolking gaan groei en ’n bykomende 2 miljoen jongmense in diens geneem word.

Daarby moet skole beter uitslae lewer en elke kind van tien jaar oud moet met begrip kan lees, terwyl geweldsmisdade gehalveer moet word.

Teen 2030 moet die getal toeriste wat die land besoek, ook meer as verdubbel tot 21 miljoen.

Daar word ook beoog dat ’n bykomende 2 miljoen mense teen Desember 2020 behandeling vir HIV/vigs ontvang.

Grafika

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Armoede  |  Sona 2019  |  Ekonomie  |  Staatsrede 2019  |  Werkloosheid  |  Ongelykheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.