Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Staatsrede laat SA’ners nie danig grinnik, toon indeks

Suid-Afrikaners was oor die algemeen nie te gelukkig met pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede verlede week nie, volgens die sogenaamde geluk-indeks.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Lecrecia Prins

Prof. Talita Greyling, verbonde aan die Universiteit van Johannesburg (UJ), het saam met dr. Stephanie Rossouw van die Universiteit vir Tegnologie van Auckland in Nieu-Seeland ’n sogenaamde geluk-indeks ontwikkel wat mense se graad van gelukkigheid regstreeks kan meet.

Dié geluk-indeks is gebaseer op twiets wat Suid-Afrikaners daagliks uitstuur. Die twiets word dan geanaliseer en ’n geluk-puntetelling word uitgewerk. Die skaal van geluk is tussen een en tien, waarvan vyf neutraal is en dus nie gelukkig of ongelukkig is nie.

Luidens ’n verklaring van die UJ het Greyling en Rossouw bepaal dat die land se burgers tydens Ramaphosa se staatsrede Donderdag minder gelukkig as gewoonlik was.

Ramaphosa het onder meer gefokus op die ekonomie en kragverskaffing, asook werksgeleenthede, die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), grond en onderwys.

Verskeie politici het ná die staatsrede gesê Ramaphosa se toespraak was vol lugkastele sonder besliste planne, en uit die geluk-indeks blyk dit dat gewone Suid-Afrikaners met hulle saamstem.

Volgens die geluk-indeks het verskeie mense na die staatsrede as ’n “wenslys” verwys en sê die president se toespraak was “vol drome, maar het min besonderhede bevat”.

Greyling en Rossouw het vasgestel die Donderdag waarop Ramaphosa sy staatsrede gelewer het, het soos enige ander Donderdag begin.

“ ’n Hoogte is bereik tussen 05:00 tot 07:00. Die res van die dag se geluk-puntetelling het gewissel tussen 6 en 6,6. Op ’n gewone Donderdagaand bly die telling gewoonlik bo 5,89 tussen 20:00 en 21:00,” lui die verklaring.

Dít was egter nie die geval tydens die staatsrede nie. Die geluk-puntetelling het ná 20:00 afgeneem tot 5,72 en het laer gebly as enige gewone Donderdagaand tot 23:00.

Vrydag het ons ’n ietwat positiewer houding gesien as Donderdagaand, met die geluk-puntetelling wat toegeneem het en ’n gemiddeld van 6,6 bereik het, soortgelyk aan vorige Vrydae.
Die verklaring

“Dit weerspieël die skeptiese luim van Suid-Afrikaners nadat hulle Ramaphosa se ‘wenslys’ gehoor het, wat menige mense glo nie sal realiseer nie,” lui die verklaring.

’n Analise van twiets tydens die staatsrede het getoon inwoners voel Ramaphosa verkoop drome aan burgers en sy planne is te ambisieus.

“Vrydag het ons ’n ietwat positiewer houding gesien as Donderdagaand, met die geluk-puntetelling wat toegeneem het en ’n gemiddeld van 6,6 bereik het, soortgelyk aan vorige Vrydae.”

Luidens die verklaring sal dié geluk-indeks baie vinnig wys hoe die gemoed van Suid-Afrikaners verander wanneer Ramaphosa begin om beleide te implementeer om sy planne in die staatsrede ’n werklikheid te maak.

Netwerk24 het vroeër berig dié indeks is ook tydens die Mei-verkiesing gebruik om die gelukkigheid van Suid-Afrikaners te meet.

Dié indeks is op 30 April in Suid-Afrika van stapel gestuur, ’n week voor die nasionale verkiesing. Dit is intussen ook in Nieu-Seeland en Australië bekend gestel.

“In Suid-Afrika kon ons sien hoe die algehele geluk verander het van ’n gelukkige en positiewe luim op verkiesingsdag tot ’n laer getal weens die politiek wat verdiep het en warm debatte oor die verkiesingsuitslae.”

Op verkiesingsdag op 8 Mei het die puntetelling van gelukkigheid op 6,48 gestaan, waarna dit gedaal het tot 6,23 op 11 Mei. Op Moedersdag is ’n telling van 6,7 bereik.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Staatsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.