Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Staatsrede: 'Wat van die inentings?'

Die regering se inentingsprogram vorm die grondslag daarvan om na normaliteit te kan terugkeer.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sê dit sal help dat ons die koronavirus beheer en die virus nie vir ons nie. 

Hy het gereageer nadat pres. Cyril Rampahosa Donderdagaand in sy staatsrede in die parlement in Kaapstad aangekondig het dat sowat 80 000 dosisse van die Johnson & Johnson- (J&J) entstof volgende week verwag word om die land se inentingsprogram af te skop.

“Vier ander besendings sal in die volgende paar weke aankom van altesame 500 000 dosisse van die J&J-entstof,” het Ramaphosa gesê.

zweli, sona, twiet

Leiers van politieke partye sê egter dit is net ’n “druppel aan die emmer” van wat nodig is om die land se 1,2 miljoen gesondheidswerkers in te ent as deel van die eerste fase van die inentingsplan.

Die regering het vandeesweek sy planne verander deur eerder inentings met die J&J-entstof te laat afskop nadat nuwe navorsing gewys het dat die AstraZeneca-entstof nie help om ligte tot matige Covid-19 met die Suid-Afrikaanse variant van die koronavirus te voorkom nie.

Mkhize het gesê die regering is “dankbaar” vir die 80 000 dosisse aangesien dit al wat beskikbaar was in die mark om inentings as deel van navorsing te kan begin.

“Ons gaan ’n groot aantal entstowwe nodig kry, maar in hierdie stadium glo ek dié getal is genoeg as ’n beginpunt. Die inentings sal oor weke uitgesprei word. Daarna sal ons die aantal entstowwe sien toeneem,” sê Mkhize.

pres. cyril ramaphosa
Voordat hy sy staatsrede gelewer het, het Pres. Cyril Ramaphosa aan 'n seremonie deelgeneem om die meer as 47 000 mense wat reeds in Suid-Afrika aan die Covid-19-virussiekte dood is te onthou. Foto: GCIS

John Steenhuisen, DA-leier, sê Ramaphosa moes in sy staatsrede veel meer besonderhede bekend gemaak het oor die getal entstowwe wat bekom is en wanneer dit afgelewer word.

“Dat daar nog nie ’n enkele inenting in die land gedoen is nie, is ’n klad op die regering se naam. Baie ander lande vorder teen ’n snelle pas en Israel het reeds die helfte van sy bevolking ingeënt.”

Steenhuisen meen vanjaar se staatsrede was ’n “maak of breek een” vir die president en ongelukkig kon Ramaphosa nie die mas opkom nie. Dit is volgens hom omdat almal bekommerd en bang is oor wat die toekoms inhou gegewe die situasie met Covid-19 en die ekonomie.

“Ek dink nie die president het genoeg versekering daaroor gegee nie. Ons het konkrete planne nodig gehad oor hoe ons dinge gaan regmaak.”

Steenhuisen het wel sekere dele van die president se toespraak as positief beskou – onder meer die aankondiging dat die Covid-19-toelaag van R350 verleng word.

Dat daar nog nie ’n enkele inenting in die land gedoen is nie, is ’n klad op die regering se naam
John Steenhuisen, DA-leier

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê dit is baie duidelik dat Ramaphosa in ’n droomwêreld leef omdat hy in sy staatsrede verwys het na die bou van stede wat hoogs ontwikkel is, terwyl die “meeste mense in Suid-Afrika ’n hongerloon verdien of werkloos is”.

Volgens Groenewald het Ramaphosa telkens in sy toespraak net gepraat oor wat gedoen moet word.

“Hy het baie keer die woordjie ‘moet’ gebruik. Ons moet dit doen; ons moet dat doen. Ons weet almal wat gedoen moet word. Die vraag is, wat het hy gedoen?

“Die positiewe aspek wat hy wel genoem het, is dat alternatiewe energiebronne beskikbaar sal wees en dat sekere wysigings aan wetgewing gedoen sal word. Ons wag daarvoor. Hy sê dit ook al vir hoeveel jare. So dit is hoog tyd dat dit ook in werking tree.”

Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, sê Ramaphosa se toespraak was bloot ’n “afskrif” van sy toespraak van verlede jaar omdat hy onder meer oor die bou van nuwe stede gepraat het.

“Slimstede benodig elektrisiteit. En ons het vanaand gehoor dat beurtkrag vir die volgende vyf jaar sal voortduur.

“Hy praat daarvan om ’n komitee te stig wat korrupsie moet ondersoek, maar ek is bereid om geld daarop te sit dat diegene wat daarop gaan dien, self by korrupsie betrek word,” sê Mazzone.

Die landbou-organisasie TLU SA het in ’n verklaring gesê dat Ramaphosa bloot in ’n verkiesingsjaar ’n goeie vertoning aan die gehoor gegee het.

“Die president het uiters dinamiese aankondigings gemaak en hy het gefokus op wat sy regering gedoen het en moet doen vir burgers. Maar bly hy in dieselfde werklikheid as Suid-Afrika?” lui die verklaring.

Meer oor:  Entstof  |  Inentings  |  Covid-19  |  Staatsrede  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.