Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Staatsrede: ‘SA moeg vir onpraktiese, leë beloftes’

Hou op met die leë beloftes en kondig daadwerklike en werkbare planne aan oor hoe probleme soos die swak ekonomie, hoë werkloosheid, die voortdurende beurtkragkrisis en sukkelende staatsentiteite waarin belastingbetalersgeld oneindigend ingepomp word, uiteindelik opgelos sal word.

Dit was Woensdag die boodskap van burgerlike organisasies en politieke partye aan pres. Cyril Ramaphosa oor wat hul verwagtinge is en wat sy prioriteite behoort te wees as hy Donderdagaand sy staatsrede in die parlement lewer.

Dr. Heinrich Volmink, uitvoerende direkteur van beleid by die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), meen dat Suid-Afrika nie nog ’n lang lys van onpraktiese beloftes nodig het nie.

Hy sê Ramaphosa moet ’n duidelike en meetbare lys van praktiese en uitvoerbare stappe, met tydsraamwerke, aankondig.

Outa hoop veral ook dat die president sal aankondig dat die e-tolstelsel in Gauteng finaal geskrap sal word.

Die ANC-alliansievennoot Cosatu het Woensdag gesê dat hy net soos die res van Suid-Afrika groot verwagtinge van die staatsrede het. Dit is veral omdat Suid-Afrika volgens die vakverbond een van sy ergste ekonomiese, fiskale en regeringskrisisse sedert 1994 beleef.

“Ons grootste probleem as ’n nasie is ekonomiese groei van minder as 1%, ons 40% en stygende werkloosheidsvlakke, en toenemende armoede en ongelykheid.

“Hierdie staatsrede se fokus moet wees om te verseker dat daar beleidsekerheid en beter bestuur van ons beperkte hulpbronne is, sowel as maniere om die kapasiteit van die staat te versterk en werkgeleenthede te skep.

“Ons grootste probleem as ’n nasie is ekonomiese groei van minder as 1%, ons 40% en stygende werkloosheidsvlakke, en toenemende armoede en ongelykheid,” sê Sizwe Pamla, Cosatu-woordvoerder.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, stem saam dat die tyd vir praat verby is en dat Ramaphosa sal moet uitklaar hoe hy daadwerklik probleme soos werkloosheid, swak ekonomiese groei, misdaad en sukkelende staatsentiteite wat belastinggeld opslurp, sowel as misdaad gaan oplos.

“Ons wil aksie sien en hoor watter praktiese stappe daaromtrent gedoen gaan word. Die VF Plus is ook soos die mense van Suid-Afrika moeg vir leë woorde, beloftes en die identifisering van die probleme.”

Intussen het John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, Woensdag sy party se alternatiewe staastsrede in Kaapstad gelewer en in sy toespraak aangevoer dat Ramaphosa Donderdag die ware stand van die probleme in die land sal onderspeel.

Volgens Steenhuisen sal landsburgers eerder versigtig verkose statistieke, swak versteekte beeldpoetsery oor regeringsprogramme en baie vae voorspellings oor wanneer en waar ons vermiste beleggings sal begin terugkeer, hoor.

Hy het gesê dat die land en politieke landskap eerder “herset” behoort te word soos in 1990 met die ontbanning van politieke partye en die onderhandelinge vir ’n demokratiese Suid-Afrika.

“Ons moet wegbreek van die ou denkwyse wat ons politieke diskoers die afgelope twee en ’n half dekades oorheers het. En met ‘ons’ bedoel ek elkeen wat die land wil red van die ramp waarna ons op pad is,” het Steenhuisen gesê.

* Intussen toon die jongste peiling Woensdag van die marknavorsingsfirma Citizen Surveys in aanloop tot staatsrede dat net 28% van Suid-Afrikaners nog glo dat die land in die regte rigting beweeg.

Ten spyte daarvan glo 64% steeds dat Ramaphosa goeie werk as staatshoof doen.

Meer oor:  Outa  |  Staatsrede2020  |  Staatsrede  |  Cyril Ramaphosa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.