Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Staatsrede: Tegniese skole kan baie probleme oplos

Die plan om sekere openbare hoërskole om te skakel in tegniese skole is niks nuuts nie en gesprekke daaroor is reeds aan die gang, sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

Hy het gereageer op pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging daaroor Donderdagaand in die staatsrede en gesê hulle verwelkom die aankondiging en meen hulle moes dié besluit al lankal geneem het.

Fedsas meen dit gaan nie net bydra tot die sogenaamde Vierde Nywerheidsrevolusie nie, “maar sal ook help met die ontwikkeling van die vaardighede wat ons in Suid-Afrika nodig het”.

Dr. Jaco Deacon. Foto: Argief

Deacon sê net 8% tot 10% van skoolleerlinge studeer ná skool verder aan universiteite.

“Die skolestelsel lewer tans nie mense wat onmiddellik gereed is vir die arbeidsmark nie. Tegniese hoërskole, wat gemik is daarop om leerlinge met spesiale vaardighede toe te rus, sal dié gaping vul.”

Hy sê daar is leerlinge wat akademies baie swak vaar omdat hul aanleg elders lê.

“Iemand sukkel dalk vreeslik met wiskunde of rekeningkunde, maar gee vir hom ’n stuk hout of metaal en skielik is dit ’n ander mens wat voor jou staan. Daardie mensekapitaal kan só ontgin word,” sê Deacon.

Hy sê hoewel baie nog moet gebeur voordat so ’n stelsel in plek kan wees, kan dit werklik baie beteken vir Suid-Afrika, sy kinders en die ontwikkeling van die land.

Deacon sê Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van basiese onderwys, het al gesê die onderwysdepartement wil sowat 60% van alle skole omskep in tegniese of vaardigheidskole.

“Maar ons weet baie voetwerk moet nog gedoen word om vas te stel watter vaardighede ons nodig het. Ons het ook geld nodig om dit te finansier. Dit sal dus nie iets wees wat reeds volgende jaar geïmplementeer gaan word nie.”

Ramaphosa sê in sy toespraak dat verskeie nuwe tegnologievakke aangebied sal word, onder meer tegniese wiskunde en wetenskap, maritieme wetenskap, lugvaartkunde en mynbouwetenskap.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU. Foto:

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê vakke soos pas-en-draai en elektriese rigtings sal ook aangebied word.

Dié skole sal soortgelyk wees aan ’n model wat gebruik word in Duitse skole waar leerlinge ná gr. 9 kan kies of hulle in ’n akademiese, tegniese of beroepsvaardige rigting wil beweeg.

Klopper sê om gewone skole in sulke tegniese skole te verander gaan baie duur wees.

“Onderwysers sal opgelei moet word om dié spesiale vakke aan te bied en die toerusting wat aangeskaf moet word, is ook duur.”

Hy sê daar is tog ’n groot behoefte aan sulke skole.

“Daar is jaarliks sowat 150 000 leerlinge wat universiteit toe wil gaan. Die deurvloeisyfer is egter baie swak omdat almal nie aangelê is om op universiteit te presteer nie.”

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, sê daar is reeds talle tegniese skole en hulle gaan net meer word.

“Die minister (Angie Motshekga) het vroeër aangekondig dat ons sogenaamde ‘fokusskole’ of skole van spesialisasie gaan open soos die skool van lugvaart in Kemptonpark. Ons sal nou net dié plan verder uitvoer.”

Meer oor:  Fedsas  |  Saou  |  Chris Klopper  |  Pres. Cyril Rama­Phosa  |  Onderwys  |  Staatsrede 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.