’n Nuwe kultuurakkoord waarby alle gemeenskappe in Suid-Afrika betrek moet word, is dringend noodsaaklik.
Dít is die direksie van die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting se oortuiging in reaksie op pres. Cyril Ramaphosa se uitlatings op Erfenisdag dat alle standbeelde en simbole uit die koloniale en apartheidsera uit openbare ruimtes verwyder moet word.
Die kabinet het reeds ook ’n proses goedgekeur om dié standbeelde na sogenaamde temaparke te verskuif.

Ds. Cassie Aucamp Foto: Argief
Netwerk24
Ds. Cassie Aucamp, voorsitter van die direksie van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting, het Sondag in ’n verklaring gesê die direksie is erg bekommerd oor die regering se voorneme om hierdie standbeelde en monumente “wat volgens hul oordeel aanstoot kan gee” na temaparke te verskuif.
Die direksie het daarom ’n brief aan Ramaphosa geskryf en ’n vergadering met hom versoek met die oog op ’n inklusiewe onderhandelingsproses oor die plek van simbole van Suid-Afrika se diverse geskiedenis.
Volgens hom is dit gedoen omdat die Grondwet onder meer lui dat Suid-Afrika aan almal behoort wat daarin woon, “verenig in ons verskeidenheid”.
Die direksie meen monumente en standbeelde is tasbare simbole van die ryk en diverse geskiedenis van al die gemeenskappe in Suid-Afrika en van die land as geheel.
“Met die onderhandelinge wat tot uiteindelik die 1996-Grondwet gelei het, het die uniek-eie simbole van elke gemeenskap nie die aandag gekry wat in die beginsels vir die Grondwet neergelê is nie.
Die storie van Suid-Afrika is nie die storie van die regering van die dag nie, maar die storie van al die gemeenskappe in ons land.
“Gedagtig daaraan dat die onderhandelde skikking nie die vredesvoorwaardes was wat ’n oorwinnaar op die oorwonnene afgedwing het nie, maar ’n onderhandelde akkoord tussen gemeenskappe, is hierdie by uitstek nie ’n saak wat van bo af deur die regering eensydig afgedwing mag word nie. Gemeenskappe moet met mekaar in gesprek tree in die gees van die leuse op ons landswapen, ‘Eenheid in Verskeidenheid’.”
Aucamp het verder gesê dat die eensydige verskuiwing van “ons monumente en standbeelde na sogenaamde temaparke” ’n saak is wat nie net die hart en vesel van gemeenskappe sal raak nie, “maar ook negatiwiteit en selfs aggressie by lede van bepaalde gemeenskappe sal ontlok”.
Hy meen dit is iets wat Suid-Afrika tans nie kan bekostig nie.
Met die onderhandelinge wat tot uiteindelik die 1996-Grondwet gelei het, het die uniek-eie simbole van elke gemeenskap nie die aandag gekry wat in die beginsels vir die Grondwet neergelê is nie.
“Die storie van Suid-Afrika is nie die storie van die regering van die dag nie, maar die storie van al die gemeenskappe in ons land. Soms ook met sy eie verstaanbare eensydighede en subjektiewe beklemtonings.”
Die direksie glo ook dat die regering se optrede in stryd is met die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne wat gemeenskappe en organisasies aanmoedig om deur middel van die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap in vennootskap met die regering te tree om vir “hulle eie erfenis” te sorg om dit vir toekomstige geslagte te bewaar.
“Ons glo dat hierdie ’n saak vir die kantoor van die president moet wees aangesien dit omvattend die saambestaan van alle gemeenskappe en die vesel van alle gemeenskappe raak.
“Ons glo ook dat mnr. Ramaphosa hiervoor ’n sensitiewe oor sal hê juis omdat hy persoonlik ’n sentrale rol in die ooreenkoms van 1994-’96 gehad het,” sê die direksie.