Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Steenhuisen gee Ramaphosa ‘kus van die dood’

John Steenhuisen, DA-leier, het die deur geopen vir ’n moontlike koalisie met die ANC, maar slegs as pres. Cyril Ramaphosa dié party lei.

Steenhuisen het in ’n onderhoud met die Sunday Times, waarvan Netwerk24 ’n opname het, gesê die DA is bereid om met die hervormers in die ANC saam te werk om beleid deur te druk wat Suid-Afrika in staat sal stel om te groei.

“Ek glo daar is hervormers in die ANC wat ten gunste van pro-groei-beleid is en ek dink daar is ’n herbelyning van die rasionele sentrum van Suid-Afrika se politiek waar ek dink die DA ’n rol moet kan speel,” het Steenhuisen gesê.

John Steenhuisen, DA-leier. Foto: Argief

Sy party is egter nie bereid om met mense soos Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, en adj.pres. David Mabuza in die kooi te spring nie.

Steenhuisen, wat in ’n groot deel van die onderhoud oor koalisiepolitiek gepraat het, het gesê diegene wat “pro-groei-waardes” deel, moet mekaar begin vind en met mekaar in gesprek begin tree.

Steenhuisen was nie Sondag beskikbaar vir verdere onderhoude nie, maar Ryan Smith, sy stafhoof, het gesê die party sal nie “noodwendig” ’n koalisie met die ANC aanknoop nie.

Hy meen die maklikste manier om die land se vooruitsigte te verbeter, is nie om die ANC te verslaan nie, maar om die party se ondersteuning tot onder 50% te bring.

“Op dié manier is die ANC verplig om koalisies aan te knoop en die hervormers in die party sal ’n duidelike aansporing hê om saam te werk met ’n party in die sentrum wat die land se belange op die hart dra.”

Volgens Smith word die DA gelei deur sy waardes en beginsels. Dít sal nie-onderhandelbaar wees in koalisie-onderhandelings.

“Die realiteit is dat die DA nie op kort termyn ’n nasionale meerderheid van 50% sal behaal nie, en die beste roete vir die land is tans om die ANC se hervormingsagenda te steun.”

Tyrone Seale, woordvoerder van Ramaphosa, het navrae na die ANC verwys, want volgens hom is die kwessie ’n partypolitieke een.

Pule Mabe, woordvoerder van die ANC, het nie op navrae gereageer nie.

Mmusi Maimane, voormalige DA-leier, het by navraag gesê Steenhuisen se uitlatings wys dat die DA sy ambisie verloor het om genoeg stemme te kry om die ANC op nasionale vlak uit die bewind te dwing.

“Daar is nie ’n goeie en ’n slegte ANC nie. Suid-Afrika boer agteruit weens die ANC se slegte beleid. Die enigste alternatief is om die ANC by die stembus te verslaan.”

Maimane het verder op Twitter gesê die DA is duidelik daarmee tevrede om slegs in die Wes-Kaap te regeer.

Ek glo daar is hervormers in die ANC wat ten gunste van pro-groei-beleid is en ek dink daar is ’n herbelyning van die rasionele sentrum van Suid-Afrika se politiek waar ek dink die DA ’n rol moet kan speel.

Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, sê Steenhuisen het met sy uitlatings vir Ramaphosa die “kus van die dood gegee”.

“As die DA wil saamwerk met Ramaphosa, is dit positief vir Steenhuisen se ondersteuners, maar vir Ramaphosa is dit negatief omdat sy vyande dit as ammunisie teen hom sal gebruik dat ’n party wat beskou word as wit, met hom wil saamwerk.”

Die DA was vroeër erg gekant teen enige samewerking met die ANC, en ná die munisipale verkiesing in 2016 het hy eerder met die EFF saamgewerk. Die verhouding met die rooi barette het egter intussen verbrokkel.

Volgens Venter verander die politieke omgewing egter voortdurend en moet politieke leiers daarby aanpas, andersins sal partye stagneer.

Venter meen die linkse vleuel in die ANC, onder andere Magashule-hulle, sowel as die ver-linkse EFF, het Ramaphosa en ander redelike ANC-lede na die middel van die politieke spektrum gedryf.

As die DA wil saamwerk met Ramaphosa, is dit positief vir Steenhuisen se ondersteuners, maar vir Ramaphosa is dit negatief omdat sy vyande dit as ammunisie teen hom sal gebruik dat ’n party wat beskou word as wit, met hom wil saamwerk.

“Daarom, om sy mag te behou, sal Ramaphosa al hoe meer praat oor swart ekonomiese bemagtiging om te verhoed dat die linkses in sy party te vervreemd word.”

Dr. Ntsikelelo Breakfast, politieke ontleder verbonde aan die Nelson Mandela-Universiteit, sê die kwessie sal die narratief van Ramaphosa se teenstanders versterk dat hy “te sag is op wit mense en die private sektor”.

“Sy teenstanders voer reeds aan dat Ramaphosa aandele in maatskappye besit en dat hy anti-arm is omdat die staatstoelae so min gestyg het in die begroting.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  John Steenhuisen  |  Da  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.