Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Steenhuisen kap terug ná Ace se OB-uitlating

Die “vyand” is in dié geval nie die DA nie, maar eerder die openbare beskermer (OB) wat nie net die Grondwet oortree het nie, maar ook misluk het in die uitvoering van haar pligte.

Só het John Steenhuisen, DA-leier, Sondagaand gesê in reaksie op ’n uitlating van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, dat dié party se parlementslede nie op 16 Maart ’n mosie van die DA moet steun om van adv. Busisiwe Mkhwebane, die OB, ontslae te raak nie.

Magashule het aan die Sunday Times gesê “amptelik kan ek sê daar is nie ’n manier dat die ANC die DA, die vyande van die revolusie, sal steun nie.

“Ons kan nie met die DA saamstem oor beginselsake nie.”

Steenhuisen sê Magashule en sy sogenaamde radikale ekonomiese transformasie-faksie is bang dat een van sy bondgenote op pad uit is en hy volgende kan wees.

“Myns insiens behoort parlementslede met hul gewete te stem oor dié saak.

“Ons het gehoor watter kommentaar daar van die Zondo-kommissie (na staatskaping) was oor parlementslede wat nalatig is in die uitvoering van hul pligte.

“Parlementslede moet beginselvas optree en die belange van Suid-Afrikaners voorop stel deur dié ondergrawer van die demokrasie uit te stem,” het Steenhuisen aan Netwerk24 gesê.

Magashule se beroep op ANC-lede “het die tweespalt in die ANC vererger”.

Ons het gehoor watter kommentaar daar van die Zondo-kommissie (na staatskaping) was oor parlementslede wat nalatig is in die uitvoering van hul pligte.
John Steenhuisen

Sy uitlating is ’n beslis ’n uitdaging vir die faksie wat pres. Cyril Ramaphosa steun, sê die politieke ontleder Theo Venter.

“Dit kan ANC-lede dwing om dit duidelik te maak of hulle vir of teen Ramaphosa se veldtog is om in 2022 as ANC-leier herkies te word.

“Ramaphosa sal nou veral vir Jackson Mthembu (die minister in die presidensie en oudhoofsweep van die ANC wat onlangs aan Covid-19 dood is) baie mis. Jackson was gewoonlik die ou wat ANC-lede in ’n tyd soos nou in ’n rigting sou rig,” sê Venter.

Die mosie teen Mkhwebane kom nadat die programkomitee van die Nasionale Vergadering (NV) verlede week besluit het dat ’n paneelverslag met verdoemende bevindings teen Mkhwebane aan die NV voorgelê moet word.

In dié verslag van ’n onafhanklike paneel, onder leiding van ’n oudregter van die konstitusionele hof, Bess

Nkabinde, is bevind dat daar voldoende prima facie-bewyse bestaan dat Mkhwebane haar aan wangedrag én

“volgehoue onbevoegdheid” in haar ampspligte skuldig gemaak het.

Magashule se uitlating kom net enkele dae nadat die ANC se vroueliga, wat noue bande met die Magashule-faksie het, ook laat blyk het dié vereniging sal ook nie die DA-mosie steun nie.

Prof. Erwin Schwella, ’n regeerkundige van die Hugenote-kollege Wellington, sê Magashule raak toenemend “verstrik in naakte opportunisme” gegrond in volgorde van prioriteit waarvan eiebelang die belangrikste is.

Ons kan nie met die DA saamstem oor beginselsake nie.
Age Magashule

“Hy sal weer nie huiwer om op onetiese en immorele wyse die geveg tot die einde te veg slegs in sy eie belang nie – al moet hy die meestal onheilige tempel se mure op almal omtrek.”

Magashule, wat self onder groot druk is om opsy te staan nadat hy van bedrog, korrupsie en geldwassery aangekla is, se uitlating is met skerp teenkanting begroet deur ANC-lede in die Ramaphosa-faksie.

Hy is op Twitter veral skerp gekritiseer deur Fikile Mbalula, minister van vervoer, wat ook die ANC se verkiesingshoof is, en oudminister Derek Hanekom.

Daar was egter ook baie steun vir Magashule.

Mbalula het gesê as sekretaris-generaal is Magashule veronderstel om die hoofbeskermer van ANC-beleid – wat sy grondwet insluit – te wees.

Hy sê as ’n vriend van die OB is dit Magashule se reg om te sê Mkhwebane moenie verwyder word nie, maar hy kan dit nie namens die ANC sê nie.

“Watter struktuur (binne die ANC) het dit besluit?”

Hanekom het gesê “Die vyand? Wanneer het opposisiepartye in die parlement ons vyande geword?

“Reël 2.1 van die ANC se grondwet sê onder die opskrif oogmerke en doelwitte: ‘Om al die mense van Suid-Afrika te verenig.’ ”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.