Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Steenhuisen ontken praatjies van koalisie, kla by persombud

John Steenhuisen, DA-leier, ontken dat hy gesê het die DA is oop vir ’n koalisie met die ANC mits pres. Cyril Ramaphosa steeds die party lei.

Steenhuisen het ’n klag by die persombudsman gelê teen die koerant Sunday Times oor die eerste paragraaf van ’n berig wat “poog om die indruk te skep dat die DA oop is vir ’n koalisie-ooreenkoms met die ANC”, lui ’n verklaring van Natasha Mazzone, DA-hoofsweep Maandag.

“Dit is nooit in die onderhoud met twee Sunday Times-joernaliste gesê nie en is ’n wanvoorstelling van die DA se standpunt oor die kwessie.

“Veral twee sinne het bygedra tot hierdie wanvoorstelling – die een is ’n verdraaiing van wat gesê is, en die ander is eenvoudig onwaar.

“In die belang van billike en akkurate verslagdoening het ons die ombudsman gevra om die Sunday Times te dwing om die artikel terug te trek en ’n regstelling te publiseer,” lui Mazzone se verklaring.

Sy sê Steenhuisen het gepraat oor die moontlikheid om met die ANC saam te werk, maar het nie ’n koalisie genoem nie.

“Hy het gepraat van samesprekings met sommige van die hervormers in die ANC wat voorstanders is van ’n pro-groei-agenda, en hy het bespreek hoe hul steun moontlik gevra kan word wanneer hervorming in die parlement bespreek word.

“Hy het gepraat oor die behoefte dat mense wat groei en hervorming wil hê, met mekaar moet begin praat, en dat ’n sterk party in die middel, die DA, ’n goeie bondgenoot maak vir dié met ’n hervormingsagenda in die ANC.

“Dit is nie dieselfde as om te beweer dat die DA bereid is om koalisies met die ANC aan te gaan nie, en dit moet deur die Sunday Times reggestel word,” sê Mazzone.

Hy het gepraat van samesprekings met sommige van die hervormers in die ANC wat voorstanders is van ’n pro-groei-agenda, en hy het bespreek hoe hul steun moontlik gevra kan word wanneer hervorming in die parlement bespreek word.

Sy sê die ander sin wat volgens die DA reggestel moet word, lui: “Steenhuisen se ingesteldheid is ’n belangrike draaipunt vir die DA, wat lank reeds gekant is teen enige samewerking met die ANC.”

Dit is eenvoudig nie waar nie, sê Mazzone.

“Nie net het die DA onder Steenhuisen se leierskap herhaaldelik ’n hand uitgesteek na watter hervormers ook al in die ANC oorbly nie, dit was ook die konstante posisie van Mmusi Maimane, die vorige DA-leier, wat dikwels gepraat het van die bou van ’n nuwe meerderheid deur saam te werk met diegene in die ANC wat die DA se waardes en visie vir Suid-Afrika deel.”

Sy sê hierdie sin in die Sunday Times se berig skep die indruk dat die DA se houding oor samewerking met die ANC “op een of ander manier” verander het onder leiding van Steenhuisen. Sy stel dit onomwonde: “Dit is eenvoudig nie waar nie en moet reggestel word.”

Sy beskryf dié reëls in die Sunday Times-artikel as “klik-aas” en sê dit verwater die DA se boodskap.

• Wanneer ’n klagte by die persombudsman gelê word, sal ’n beampte die klagte beoordeel om vas te stel of dit aan ’n rits vereistes voldoen, byvoorbeeld dat dit nie bedrieglik, ligsinnig, kwaadwillig of lasterlik is nie, en of dit onder die jurisdiksie van die ombud val.

Indien die klagte aanvaar word, sal die beampte die betrokke publikasie skriftelik daarvan in kennis stel, met voldoende besonderhede om die publikasie in staat te stel om die saak te ondersoek en binne sewe werkdae daarop te reageer.

Arena Holdings (voorheen die Tiso Blackstar-groep), die uitgewer en eienaar van Sunday Times, kon nie Maandagaand vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Ombudsman  |  Da  |  Koalisie  |  John Steenhuisen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.