Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Steenhuisen: Skaf SEB af

Swart ekonomiese bemagtiging (SEB) maak swart mense armer – en daarom, sê John Steenhuisen, moet dit afgeskaf word.

John Steenhuisen, tussentydse leier van die DA, Saterdag in Kaapstad by die bekendstelling van sy veldtog om permanente leier van die party te word. Foto’s: Edrea du Toit

Steenhuisen, tussentydse leier van die DA, het Saterdag sy veldtog om permanente leier van die party te word in Mouillepunt, Kaapstad, afgeskop.

“SEB bevoordeel slegs ’n klein elite,” sê Steenhuisen.

“Die feite spreek vanself. Onder die ANC se SEB-beleide het swart huishoudings oor die laaste dekade 10% armer geword. Die land se armoedekoers het ook vermeerder, met 30 miljoen Suid-Afrikaners wat nou op minder as R991 per maand lewe. Van die 30 miljoen mense wat in armoede leef, is 99,8% swart, bruin en Indiër.

“Ek glo dit is tyd om ons bemagtigingspogings op arm en benadeelde Suid-Afrikaners te fokus – waarvan 99% swart is. Ons moet ophou om dieselfde mense weer mag te gee.”

Doen weg met steenkool-kragstasies.

Steenhuisen sê hy gaan “hard werk om te verseker” dat die DA op sy beleidskonferensie in April ’n beleid aanneem waardeur bemagtigingsprogramme mense bevoordeel wat dit nodig het.

SEB, en die vraag of ras steeds as ’n aanduider gebruik moet word van wie voorheen benadeel is, is reeds weer ’n sleutelkwessie in die DA-leierstryd.

’n Konsepbeleidsdokument, waaroor DA-afgevaardigdes en die publiek kommentaar kan lewer, stel voor dat die DA wegbeweeg van ekonomiese regstellings op grond van ras.

Albei Steenhuisen se opponente, Mbali Ntuli, die voormalige jeugleier, en John Moodey, Gautengse DA-leier, het nog nie hul standpunt rondom SEB bekend gemaak nie.

Benewens die afskaffing van SEB pleit Steenhuisen dat weggedoen word met steenkoolkragstasies.

Joe McGluwa, DA-leier in Noordwes, Alan Winde, Wes-Kaapse premier, en Masizole Mnqasela, Wes-Kaapse speaker, by die bekendstelling.

“Ek wil julle bevry van Eskom deur te baklei dat die regering sy steenkoolaangedrewe kragstasies verkoop en onafhanklike private kragverskaffers bemagtig om die meeste van ons elektrisiteit te genereer deur hernubare bronne soos hidro-, wind- en sonkrag.”

Oor grondonteiening sonder vergoeding sê Steenhuisen “almal weet dit is nie die antwoord nie”.

“Pleks daarvan moet ons die landbougrondmark oopmaak vir begunstigdes van grondhervorming deur subsidies en belastingtoegewings. Ons moet titelaktes uitreik aan begunstigdes wat op die oomblik net toegelaat word om grond by die staat te huur.”

Steenhuisen wil plaasmoorde en geslagsgegronde geweld as voorkeurmisdade laat verklaar en belastingkortings verskaf aan mense wat geld bestee aan private sekuriteit.

Steenhuisen meen ook dat die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) die enigste gesondheidstelsel wat werk, die private stelsel, sal vernietig.

“Onder die DA se Sizani-plan sal ons openbare gesondheidsorg gratis verskaf aan almal wat dit nodig het, terwyl ons inwoners se reg om private gesondheidsversekering te koop, sal beskerm.”

Oor binnegevegte in die DA sê Steenhuisen dat ’n sterk leier nie bang moet wees om moeilike besluite te neem nie.

“Ek sal beslissende stappe doen – selfs wanneer dit ongewild is. Ek sal ook verseker dat elke lid van die DA, asook die breër publiek, absoluut seker is oor waar ons staan.”

Gevra of hy die teenstand van Ntuli en Moodey vrees, sê Steenhuisen hy verwelkom dit. “Mededinging is goed en gesond, en ek sien uit na die uitruil van idees onder die kandidate. Ek het niks slegs te sê oor die kandidatuur van enigeen van hulle nie.”

Verskeie senior DA-lede het Steenhuisen se bekendstelling bygewoon. Onder diegene wat teenwoordig was, was Glynnis Breytenbach (LP), James Selfe (voormalige voorsitter van die federale raad), Alan Winde (Wes-Kaapse premier), Natasha Mazzone (parlementêre hoofsweep), Joe McGluwa (Noordwes-leier), Jane Sithole (Mpumalanga-leier), Jacques Smalle (Limpopo-leier) en Masizole Mnqasela (Wes-Kaapse speaker). Busse is ook aangery uit die DA se wes- en oosstreek van die Wes-Kaap om die bekendstelling by te woon.

* Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse leier van die DA, het die afgelope week onttrek aan die DA se leierskapstryd.

Senior bronne beweer hy is oorweldig deur die positiewe reaksie op Ntuli se kandidatuur.

Ander bronne beweer dat Madikizela homself staal vir ’n aanslag op sy posisie as provinsiale leier, met sowel Winde as Mnqasela wat as moontlike uitdagers genoem word. Provinsiale kongresse sal ná die federale kongres plaasvind.

Mnqasela het sy kandidatuur aan Rapport bevestig, maar Winde sê dat hy nog nie daaroor nagedink het nie.

Die DA se federale kongres, waar sy leiers verkies word, word op 30 en 31 Mei gehou.

Meer oor:  John Steenhuisen  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.