Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Steenhuisen: Wat beteken sy aanstelling vir die DA?
John Steenhuisen is die DA se nuwe parlementêre leier in die plek van Mmusi Maimane. Foto: DAWIE BOONZAAIER

Die aanstelling van John Steenhuisen in die plek van Mmusi Maimane as parlementêre leier van die DA dui op ’n fundamentele skuif in dié party dat sy leiers voortaan “op verdienstelikheid en nie op rasgronde” nie verkies sal word.

Dit was prof. Erwin Schwella, politieke ontleder van Bellville verbonde aan die Tilburg-Universiteit in Nederland, se reaksie kort nadat dr. Annelie Lotriet, die DA se koukusvoorsitter in die parlement, Sondag amptelik Steenhuisen se onbestrede aanstelling in die pos bevestig het.

Steenhuisen vervang Maimane wat ná ’n dramatiese week in die party Donderdag aangekondig het dat hy uit dié pos én die party bedank. Hy het Woensdag reeds sy bedanking as partyleier aangekondig.

Volgens Schwella is Steenhuisen demokraties verkies en is hy volgens sy party die beste kandidaat vir die pos.

“Hy is ’n uitstekende parlementêre debatteerder en is ook gewild in die party. Hy het egter sy teenstanders.”

Schwella meen sy aanstelling wys die party se siening het fundamenteel verskuif ten opsigte daarvan of ras of meriete ’n faktor in prominente aanstellings moet speel.

“Steenhuisen se aanstelling wys dat die party nou sterk in ’n rigting beweeg waar verdienstelikheid aanstellings sal bepaal. En daar is ’n groot getal bekwame swart kandidate wat ook binnekort in prominente poste in die party aangestel kan word.”

Schwella meen dit is voortydig om te sê dat ’n nuwe beplande party wat gegriefde DA-lede wil vorm, steun van meesal die DA sal lok.

Maar versterk dit nie net weer die persepsie dat die DA ’n wit party is nie? Of dit nou waar is of nie, sal Steenhuisen se aanstelling dié persepsie beslis verder voed.

Rapport het Sondag berig dat gegriefde DA-leiers en -lede dit oorweeg om ’n wegbreekparty te stig om in 2021 aan die munisipale verkiesing deel te neem.

Luidens die berig het gesprekke hieroor reeds twee weke gelede begin toe dit moontlik begin lyk het dat Helen Zille die nuwe voorsitter van die party se federale raad sou word.

Dr. Nontsikelelo Breakfast, politieke ontleder van die Universiteit Stellenbosch, sê dit is goed as die DA Steenhuisen op meriete aangestel het. “Maar versterk dit nie net weer die persepsie dat die DA ’n wit party is nie? Of dit nou waar is of nie, sal Steenhuisen se aanstelling dié persepsie beslis verder voed.”

Volgens Breakfast is die DA in ’n “erge krisis”.

“En as ’n mens na ander name kyk wat op die tafel is om ander vakante topposte te vul, word bogenoemde narratief net verder gedryf.” Die Sunday Times het Sondag berig Steenhuisen se aanstelling is die begin van ’n veldtog van Zille se ondersteuners in die party om alle magtige poste oor te neem en dit met “wit mense” te vul.

Die koerant berig die DA wil glo vir Natasha Mazzone, DA-LP en woordvoerder oor openbare ondernemings, as die nuwe hoofsweep aanstel, terwyl Geordin Hill-Lewis, nog ’n prominente DA-LP, genoem word as ’n toekomstige uitvoerende hoof van die party.

*Volg Netwerk24 vir meer.

Meer oor:  John Steenhuisen  |  Da-Leierstryd  |  Politiek  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.