Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Stel uit! sê Tito, maar DA gereed vir stem

Terwyl senior ANC-leiers soos Tito Mboweni, minister van finansies, steeds vra dat die plaaslike verkiesings uitgestel word en die EFF nog “besluiteloos” is oor hul gereedheid daarvoor, is die DA egter slaggereed.

Dít was Maandag John Steenhuisen, DA-leier, se boodskap aan Suid-Afrikaners toe hy ’n “spesiale aankondiging” oor die DA se gereedheid vir die verkiesings gemaak het.

Pres. Cyril Ramaphosa het onlangs aangekondig dat die verkiesings op 27 Oktober gehou sal word.

John Steenhuisen Foto: Daily Sun

Steenhuisen se aankondiging kom nadat Mboweni ook Sondag onder meer getwiet het: “Jy benodig nie ’n PhD om die gevare van saamtrekke, verkiesing-saamtrekke, deur-tot-deur-veldtogte en rye vir die stemmery te sien nie. Stel hierdie ding uit en red lewens! Die wêreld sal nie eindig nie! Ek sal nie enige saamtrek of enige vergadering van aangesig tot aangesig bywoon nie. Dankie.”

Sy Mamabolo, hoofverkiesingsbeampte van die Verkiesingskommissie (OVK), het kort ná Ramaphosa se aankondiging van die verkiesingsdatum aan joernaliste gesê dat die OVK met 14 van die grootste politieke partye vergader het. Bykans die helfte het toe voorgestel dat die verkiesing in die lig van die koronaviruspandemie uitgestel word.

Die EFF maak veral openlik hiervoor voorspraak.

Die ANC steun egter nie ’n uitstel nie.

Intussen het Steenhuisen Maandag verder in ’n verklaring gesê dat terwyl ander partye besluiteloos is oor die verkiesings, is die DA op dreef om daaraan deel te neem.

“Ons het hard gewerk om in ’n posisie te wees om ons veldtog in hierdie ongewone omstandighede te kan hou sodat elke kieser op 27 Oktober sal weet waarvoor die DA staan en wat ons hulle in plaaslike regering bied.”

Steenhuisen het om dié rede Maandag in ’n video op die party se sosialemediaplatforms aangekondig dat sy party op 22 Mei ’n historiese virtuele saamtrek sal hou om hul verkiesingsveldtog amptelik te begin.

“Ons is nie afgelei of verward nie. Ons weet die enigste wyse om ware verandering in Suid-Afrika teweeg te bring, is deur die mag van die stem en dit is waarom ons voorwaarts beweeg tot 27 Oktober.

“Op 22 Mei sal ons die grootste virtuele saamtrek hou wat dié land nog ooit ervaar het.”

Steenhuisen het verder in sy verklaring gesê almal weet dat Suid-Afrika desperaat is vir verandering.

“Selfs voordat die Covid-19-pandemie ons getref het, was ons ekonomie in ’n krisis. Ons het rekord-werkloosheidsyfers gehad, ons kredietgradering was rommelstatus en die ekonomie in ’n resessie.

“Die regering se hardhandige en dikwels sinnelose reaksie op die pandemie het verskeie verdere spykers in die doodskis van ons versplinterde ekonomie ingeslaan. Om ons uit hierdie gat te grawe, sal die soort omvattende verandering vereis waartoe die ANC-regering nie in staat is nie.”

Steenhuisen het bygevoeg dat diegene wat hul verkiesingsveldtogte op ras- en kulturele solidariteit sal grond, Suid-Afrika se demokratiese projek net terugwaarts sal neem. “As die DA van verandering praat, bedoel ons verandering wat elke Suid-Afrikaner en gemeenskap sal bevoordeel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.