Kaapstad. – Die DA het reeds die algemene verkiesing in 2019 in sy visier en gaan die komende munisipale verkiesing gebruik om jong kiesers te werf.
Die idee agter die jongmense se stem is om maksimum ondersteuning te kry sodat jongmense nou al hul stem kan bepaal vir ’n nuwe regering, het Zak Mbele, DA-LP, gesê.
Hy was gisteraand ’n gasspreker by ’n politieke debat oor die komende munisipale verkiesing by die Universiteit van Kaapstad (UK).
Die geleentheid is aangebied deur die #SpeakOutMzansi-veldtog op die kampus.
“Jongmense is die belangrikste komponent in 2019 se verkiesing. Ons moet jongmense nou al regkry om vir die regte party te stem,” het Mbele gesê.
Hy het ook gesê die DA gaan in Kaapstad voortgaan om vooruitgang te verseker.
“Ons het die laagste werkloosheidsyfer en die beste dienste word in die stad gelewer. Ons is die beste metro-munisipaliteit in die land en hier [in Kaapstad] geniet inwoners dienste van die beste gehalte.”
Die jong studente het die DA by tye in die gesprek uitgekryt.
Fezile Nquiwa, ’n UK-student, het gesê politieke partye moet ophou om net sekere rasgroepe te verteenwoordig. “Ons kry Moslem-partye en ander wat dit duidelik maak dat hulle in die Christendom glo. Ons kan nie dit hê nie; politieke partye en verkose staatsamptenare moet almal verteenwoordig,” het hy gesê.
Xolani Sotashe, die ANC se burgemeesterskandidaat vir Kaapstad, het nie by die geleentheid opgedaag nie. Die ANC is deur Nonceba Mhlaudi, kandidaatraadslid vir wyk 59, wat Rondebosch en Claremont insluit, verteenwoordig.
“Claremont en Rondebosch is twee voorstede waar rassisme gekoester word en wit heerskappy aan die orde van die dag is. Dit kan gesien word deur die aantal bekostigbare behuisingsgeleenthede . . . hier is so te sê niks nie. Dit sê vir ons dat dié gemeenskappe duidelik nie met ander wil integreer nie.” het sy gesê.
Zweli Tukai, ACDP-kandidaat, het gesê: “Ons moet die basiese dinge reg doen. Ons moet raadslede die regte toegang gee tot begrotings om verandering in hul gebiede te kan maak. Raadslede moet ook bevoeg wees om die werk te kan verrig.”
Palesa Msabela, ’n EFF-verteenwoordiger, het gesê sy is geskok deur die DA (Mbele) se uitlatings.
“Arm swart mense het nie toegang tot spoeltoilette nie. Hulle lewe in haglike toestande; hulle is arm. Is dit wat julle ’n goed beheerde stad noem? Regtigwaar? Is dit die beste?” het sy onder toejuiging van die gehoor gevra.
Thando Tsotsobe, ’n werker by die UK, het gesê die EFF maak onrealistiese beloftes aan kiesers.
“Ek wonder net waar gaan al die geld vandaan kom. Die EFF belowe mense die hemel en aarde, maar het ons die geld?” het hy gesê.