Die bewyse dat die polisie en die Durbanse sakeman Thoshan Panday ’n beweerde korrupte verhouding gehad het, is van die sterkste wat hy in sy loopbaan teëgekom het, sê Trevor White, direkteur van PricewaterhouseCoopers (PwC).

Thoshan Panday
Tussen November 2009 en Augustus 2010, in aanloop tot en rondom die Wêreldbekersokkertoernooi, het die polisie in KwaZulu-Natal sowat R47 miljoen aan maatskappye betaal wat met Panday verbind word.
Die polisie het glo buitensporige bedrae betaal vir produkte en dienste wat hulle gelewer het.
White het Maandag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig dat Panday omkoopgeskenke aan hooggeplaastes in die polisie in ruil vir kontrakte gegee het.
Volgens White was onder andere kol. Navin Madhoe en lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, voormalige polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, betrokke.
PwC het die polisie destyds met sy ondersoek gehelp.
“Gegrond op my ervaring is die dokumentêre bewyse die sterkste wat ek nóg gesien het. Die dokumente doen die praatwerk,” het White gesê.
Hy het spesifiek verwys na ’n boek waarin Panday se persoonlike assistent destyds in die fynste besonderhede aantekeninge van opdragte en betalings gemaak het.
“Dit is die boek wat die meeste ondersoekers sou wens om op te spoor,” het White gesê.
Tog het Ngobeni destyds opdrag gegee aan onder andere Johan Booysen, voormalige Valkehoof in KwaZulu-Natal, om die ondersoek te staak.
Volgens White het Panday se entiteite sowat R30 miljoen wins gemaak uit die bedrag van R47 miljoen wat deur die polisie oorbetaal is.
Volgens White het Panday se entiteite sowat R30 miljoen wins gemaak uit die bedrag van R47 miljoen wat deur die polisie oorbetaal is.
Twee van dié entiteite, wat glo frontmaatskappye is, is Valotone en Bravostat, wat aanvanklik in Panday se vrou en sy ma se name geregistreer was.
White het gesê die polisie het onregmatig kontrakte vir die verblyf van polisiebeamptes gedurende die Wêreldbekersokkertoernooi, asook vir die lewering van ander goedere en dienste aan Panday se entiteite toegeken.
“In party gevalle is goedere gelewer wat die polisie nie nodig gehad het nie, en in ander het die polisie tot drie keer meer daarvoor betaal.”
White het gesê in die meeste gevalle is kontrakte van onder R200 000 aan Panday se entiteite gegee omdat dit dan regstreeks gedoen kon word.
Wanneer kontrakte van meer as R200 000 toegeken is, is die gewone tenderprosesse glo omseil.
White het gesê die polisie sou tot op die nippertjie wag en dit dan, weens die dringendheid, verantwoord om kontrakte regstreeks aan Panday toe te ken.
“Die entiteite het ook afsonderlike kwotasies ingedien om die illusie te skep dat daar mededinging was,” het White gesê.
White sal sy getuienis Dinsdag voor die kommissie voortsit.
Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het in 2016 ’n aanklag van korrupsie teen Madhoe en Panday heringestel, maar die twee het nog nie in die hof verskyn nie.