Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Stigmatisering moet einde kry – Cyril

Die stigmatisering van mense met die koronavirus moet dadelik stop, pleit pres. Cyril Ramaphosa.

Hy het dié stigmatisering in gemeenskappe Maandag in sy weeklikse nuusbrief as ’n probleem beskryf wat landwyd begin kop uitsteek. Volgens hom het die samelewing ’n kollektiewe verantwoordelikheid om dit uit te roei.

“Daar is ontstellende berigte oor individue met die virus wat uit hul gemeenskappe verdryf word én daar is gemeenskappe wat betoog teen mense met die virussiekte wat in hul plaaslike hospitale en klinieke opgeneem is. Dít moet stop.

“Net soos ons saamgestaan het om die aanvaarding van mense met MIV en vigs te bevorder en sterk standpunt ingeneem het teen viktimisering, moet ons nou ook begrip, empatie, deernis en verdraagsaamheid toon teenoor dié wat met die virus besmet is en hul families.”

Net soos ons saamgestaan het om die aanvaarding van mense met MIV en vigs te bevorder en sterk standpunt ingeneem het teen viktimisering, moet ons nou ook begrip, empatie, deernis en verdraagsaamheid toon teenoor dié wat met die virus besmet is en hul families.

Ramaphosa meen die stigmatisering word gedryf deur vrees om die virus op te doen, sowel as ’n gebrek aan begrip.

“Die beste manier om ons instinktiewe vrees vir die siekte en besmetting te oorkom is om aan die higiënemaatreëls te voldoen.”

Hoewel die vrese vir besmetting grondig is, weet almal egter volgens hom wat om te doen om hulself en ander te beskerm.

“Landsburgers moet hulle deur die feite en nie skinderstories nie laat lei. Niemand kan meer sê dat hulle nié iemand ken wat besmet is met, of geraak is deur die koronavirus nie. Ons vriende, families, kollegas en bure het ons empatie en ondersteuning nou meer as ooit tevore nodig. In die komende dae, weke en maande sal ons by tye moedeloos en bang raak as ons sien hoe die getal infeksies en sterftes aanhou styg.

“Dit kan wees dat dinge erger geword het, maar ons is seker dat dit beter sal word. Ons wetenskaplike en mediese adviseurs het gesê dat die infeksievlakke sal styg soos ons die piek nader, maar dat sal vir seker weer daal.”

Ramaphosa skryf dat Suid-Afrika se sterftesyfer die 2 000-kerf verbygesteek het en dat gesondheidsorgwerkers onder diegene is wat dood is.

“Dat dié mans en vroue wat hierdie edelste van take verrig self siek word en sterf, is ’n verwoestende slag. Hulle werk onder groot druk en moet die sielkundige las dra dat daar ’n risiko is dat hulle aangesteek kan word. Hulle is die ware helde en heldinne van ons stryd teen die koronavirus.

Landsburgers moet hulle deur die feite en nie skinderstories nie laat lei.

“Hulle verskaf mediese sorg, administratiewe ondersteuning en ander dienste soos skoonmaak- en spysenieringsdienste.”

Hy sê dat hul gesondheid en veiligheid die land se belangrikste taak moet wees.

Volgens hom het die regering daarom persoonlik beskermende toerusting vir mediese werkers aangekoop en sal dit daar waar daar ’n tekort is, aangevul word. Personeeltekorte geniet ook dringende aandag.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Nuusbrief  |  Stigmatisering  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.