Die ontplooiing van lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag om misdaad op die Kaapse Vlakte hok te slaan, moet verwelkom word, maar die FW de Klerk-stigting wonder of dit volhoubaar gaan wees.

Bheki Cele, minister van polisie.Foto: Gallo Images
Die vraag is of pres. Cyril Ramaphosa se besluit om soldate in te stuur, gepas en doeltreffend gaan wees, lui ’n inskrywing op die stigting, wat deur oudpres. FW de Klerk op die been gebring is, se webblad.
Daar kan geen twyfel wees oor die erns van die situasie nie: 2 302 mense is in die eerste ses maande van 2019 in Kaapstad vermoor. Dit verteenwoordig ’n moordsyfer van meer as 100/100 000 teenoor 33/100 000 vir Suid-Afrika en 6/100 000 vir die wêreld. Dit gee aan Kaapstad een van die hoogste moordsyfers ter wêreld.”
Die stigting skryf hy verwelkom die ontplooiing van soldate in die gebied as ’n korttermyn-maatreël binne die raamwerk van die grondwetlike mandaat om te help om veiligheid te herstel en lewens te beskerm.
Die probleem kan egter nie op die lange duur opgelos word deur die militarisering van polisiëring nie. Dit sal ’n herskryf van die hele wet en effektiewe stappe vereis om die lewensomstandighede van die mense van die Kaapse Vlakte te verbeter.
Die stigting se kommentaar volg nadat lede van die weermag Vrydag in Kaapstad aangekom het nadat Bheki Cele, minister van polisie, aangekondig het hulle word ontplooi om die SAPD by te staan met misdaadbestryding in misdaadgeteisterde dele van die Wes-Kaap.
Inwoners vra al jare dat die weermag ontplooi word omdat misdaad en bendeoorloë in sekere gebiede buite beheer is. Cele, wat tot onlangs nog volgehou het dat misdaad op die Kaapse Vlakte nie erg genoeg is om die weermag se hulp in te roep nie, het Donderdag aangekondig soldate gaan in die ergste misdaadgebiede ontplooi word.