Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Stimuluspakket: Toerisme verwelkom planne met visums
Janine Myburgh, president van die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid. Foto: Verskaf

Die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid en die Wes-Kaapse regering het Vrydag die voorgestelde wysiging van visumvereistes om na Suid-Afrika te reis verwelkom.

Pres. Cyril Ramaphosa het dié aankondiging gedoen toe hy Vrydagoggend ’n stimuluspakket vir die land bekend gemaak het.

Alan Winde, LUR vir ekonomiese geleenthede, toerisme en landbou, het sprake van ’n “vriendeliker visumregime” verwelkom, veral wat betref die vereistes vir reis met minderjariges en lande wie se burgers visums moet kry.

E-visums sal ook in ’n aanvoorprojek getoets word, het Ramaphosa aangekondig.

Volgens Winde het die strenger visumvereistes sedert 2014 “hewige gevolge” ingehou vir toerisme, wat ’n groot bron van inkomste in die streek is.

“Die gasvryheidsektor het baie kansellasies aangemeld met reise uit sommige markte, soos China, wat veral ingeperk is. Ons het nou die geleentheid om te herbou en verdere werkskepping en groei in ons toerismesektor te ontsluit.”

Volgens Winde moet daar ook gekyk word na die moontlikheid om reisigers wat die strawwe visumvereistes van ander lande geslaag het, outomaties toe te laat.

Alan Winde, Wes-Kaapse LUR vir ekonomiese geleenthede, toerisme en landbou. Foto: Leanne Stander

“Sodoende maak ons ons deure oop vir soveel reisigers as moontlik.”

Janine Myburgh, president van die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid, sê die voorgestelde wysigings sal ’n “groot verskil” maak in die Wes-Kaap “waar daar baie in florerende toerismebedryf belê is”.

“Die wysigings vir visums dui aan dat die ekonomie ’n hupstoot gegee kan word sonder om geld te bestee. Soms hoef die regering net die struikelblokke te verwyder en groei sal plaasvind.”

Volgens Myburgh is die probleme met visumregulasies en die oplossings duidelik aan die regering uiteengesit “net om met hardnekkige weerstand begroet te word en die weiering om die skade aan die ekonomie en werkskepping te verstaan”.

Pres. Ramaphosa het Vrydag gesê die kabinet het onmiddellike veranderings aan Suid-Afrika se visumregime goedgekeur om ekonomiese bedrywighede en vennootskappe aan te spoor.

“In die volgende paar maande sal wysigings aangebring word aan die regulasies vir minderjarige reisigers, die lande waar visums vereis word om Suid-Afrika binne te kom sal hersien word en e-visums sal in ’n aanvoorprojek geïmplementeer word. Die visumvereistes vir hooggeskoolde buitelanders sal ook hersien word.”


Meer oor:  Toerisme  |  Visums
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.