Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Stof lê nie oor Malema se ‘politiekery met geslagsgeweld’

Die ANC-koukus in die parlement moet bepaal of die “jammerlike” uitlatings oor geslagsgeweld deur een van sy eie LP’s, sowel as dié van Julius Malema, EFF-leier, nie oortredings is wat gestraf moet word nie.

Die ANC se moederliggaam het dié versoek Woensdag aan sy koukus gerig nadat die hewige kritiek teen Boy Mamabolo, ANC-LP, en Malema na buite die parlement uitgekring het.

Woensdag se debat oor pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede het sonder enige ontwrigting afgeloop.

Dít was in teenstelling met Malema en sy EFF-LP’s se chaotiese gedrag verlede Donderdagaand tydens die staatsrede en Dinsdag op die eerste dag van die debat daaroor.

EFF-leier Julius Malema. Foto: Liza van Deventer

Die vonke in die Nasionale Vergadering het Dinsdagmiddag gespat toe Mamabolo eers vir Malema daarvan beskuldig het dat hy sy vrou, Mantoa Matlala, mishandel.

Malema het dit ontken en op sy beurt vir Ramaphosa daarvan beskuldig dat hy sy eerste vrou, wat dood is, mishandel het.

Die hewigste kritiek hieroor in Woensdag se debat het gekom van Sylvia Lucas, ANC-LP en adjunkvoorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies. Sy het die EFF se chaotiese gedrag sedert Donderdagaand as “boelie-taktiek, wetteloos en onverdraagsaam” beskryf.

“Geslagsgeweld is nie iets wat tot politiekery vir populistiese omstredenheid gereduseer kan word nie. Ons moet om verskoning vra vir elkeen, veral die slagoffers van geslagsgeweld en hul families, vir wat gister (Dinsdag) hier gebeur het.”

Lucas het LP’s ook versoek om saam die dekorum en waardigheid van die parlement te herstel.

Intussen het Pule Mabe, ANC-woordvoerder, Woensdag die ANC se teleurstelling uitgespreek oor Mamabolo en Malema se jammerlike misbruik van geslagsgeweld vir “politieke gewin, publisiteit en aandagsoekery”.

Die ANC het die parlement versoek om sy reëls oor taalgebruik en gedrag aan LP’s op te dwing.

“Die ANC-koukus moet dit oorweeg om ondersoek in te stel of die jammerlike uitlatings oor veral geslagsgeweld nie ’n oortreding is nie en om dit aan die relevante komitees voor te lê vir gepaste sanksies,” lui die ANC-verklaring.

Intussen het Sonke Gender Justice (SGJ), ’n nie-regeringsorganisasie wat hom vir gendergelykheid beywer, Woensdag ook ’n beroep op die parlement gedoen om gepaste regstellende stappe teen Mamabolo en Malema te doen vir hul optrede.

Given Sigauqwe, SGJ-woordvoerder, het die twee se gedrag as “ ’n nuwe laagtepunt vir die parlement” beskryf.

“Na wie sal slagoffers van geslagsgeweld gaan as hul leiers ’n bespotting maak van hul ervarings net om ’n politieke speletjie te wen? Vroue en kinders verdien beter.

“Dit is ’n oomblik vir ons leiers om hul kop in skaamte te laat sak en om selfondersoek te doen. Geslagsgeweld is ’n nasionale krisis en ons het doeltreffende leierskap nodig om hierdie euwel te beëindig,” het Sigauqwe gesê.

“Dit is ’n oomblik vir ons leiers om hul kop in skaamte te laat sak en om selfondersoek te doen. Geslagsgeweld is ’n nasionale krisis en ons het doeltreffende leierskap nodig om hierdie euwel te beëindig.

Intussen het Matlala Woensdag ’n prokureursbrief aan Mamabolo gestuur waarin sy hom versoek om sy “vals bewering” in die parlement – dat Malema haar mishandel – terug te trek tensy hy nóg ’n lastereis van R1 miljoen wil vermy.

Dié bewering het die Malema-gesin erge skade berokken en ’n bespotting van hul kinders by hul skool gemaak, sê sy.

Malema het Dinsdag vir Mamabolo deur dieselfde prokureurs ingelig dat hy hom vir R1 miljoen gaan dagvaar oor sy uitlatings.

Mamabolo het Woensdag op Twitter geskryf: “Ek sal nie enige stelling wat gister (Dinsdag) in die parlement gemaak is, terugtrek nie, want daar is feite en bewyse vir al die kwessies . . . Bring dit, laat ons in die hof bymekaarkom”.

Die ANC-vroueliga het Woensdag die “minagtende neiging” dat manlike LP’s geslagsgeweld vir goedkoop politieke gewin misbruik, ten sterkste verwerp.

Meer oor:  Sylvia Lucas  |  Julius Malema  |  Boy Mamabolo  |  Geslagsgeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.