Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Stokkie voor dié soustrein wyd verwelkom
Tito Mboweni, minister van finansies.

Die stokkie wat voor die “munisipale soustrein” gesteek is, is Woensdag wyd verwelkom omdat dit ’n einde kan bring aan die misbruik van belastingbetalersgeld wat in sommige gevalle “verregaande en totaal ongeregverdig” is.

Stemme het ook opgeklink dat die munisipale kostebesparingsregulasies wat op 1 Julie van krag word na álle regeringsvlakke uitgebrei moet word.

Tito Mboweni, minister van finansies, het die streng nuwe regulasies vir kostebeparing op 7 Junie in die Staatskoerant gepubliseer. Dit hou onder meer verband met die gebruik van ampsmotors, kredietkaarte, reis en verblyf, borgskappe, funksies en spyseniering en konsultante.

Die regulasies bepaal onder meer dat:

* ’n Amptenaar of politieke ampsdraer van ’n munisipaliteit gebruik moet maak van die munisipale vlootmotors voordat uitgawes aangegaan word om ’n motor te huur; dat daar van openbare vervoer of pendeldiens gebruik gemaak moet word as die koste van só ’n diens goedkoper is as om ’n motor te huur, die koste van die kilometers wat geëis kan word deur ’n amptenaar of politieke ampsdraer en die koste van parkering.

* Die perk vir die aankoop van motors vir gebruik deur politieke ampsdraers nie R700 000 of 70% van hul totale jaarlikse vergoedingspakket vir eie verskillende grade van munisipaliteite oorskry nie;

* Geen kredietkaarte sal voortaan deur munisipaliteite aan enige amptenaar, politieke ampsdraer of direksielede van munisipale entiteite uitgereik word nie;

* Vliegkaartjies in ekonomiese klas sal vir alle vlugte van vyf ure en minder gekoop word;

* Spysenieringskoste mag aangegaan word vir vergaderings, konferensies, werksessies, kursusse ensovoorts, mits dit langer as vyf ure lank duur.

* Munisipaliteite mag nie alkohol koop nie tensy die koste van die verkoop daarvan verhaal word.

* Vermaaklikheidstoelaes vir kwalifiserende amptenare mag nie meer as R2 000 per jaar beloop nie.

* Die verantwoordbare beampte moet verseker dat toelaes aan amptenare vir private oproepe en datakostes beperk word tot ’n bedrag soos vasgestel is deur die aanspreeklike beampte in die kostebesparingsbeleid van die munisipaliteit of munisipale entiteit; en

* Die advertering van munisipale verwante aktiwiteite asook die gebruik van konsultante word ook beperk.

As jy dus sien dat ’n burgemeester van 'n arm dorp met ’n Porche Cayenne rondry, kan jy gaan vasstel wat die kostebeparingsbeleid van daardie spesifieke munisipaliteit bepaal.
Kevin Allan

Kevin Allan, besturende direkteur van Municipal IQ, het Woensdag by navraag gesê dié regulasies is “tydig en noodsaaklik” omdat daar baie misbruik van geld op munisipale vlak wat soms “verregaande en totaal ongeregverdig” is.

Hy het die baie spesifieke besonderhede in die regulasies verwelkom. “Die besonderhede wat in die regulasies uiteengesit word, is belangrik. Hoe meer besonderhede daar is, hoe beter, want dit beteken daar is minder kans vir mense om te sê daar is ’n grys gebied in die regulasies. Ek hoop dat dit sal werk juis omdat die regulasies so spesifiek is.”

Nóg ’n rede waarom Allan dink die regulasies sal werk, is vanweë die verantwoordelikheid wat dit op die aanspreeklike beampte plaas. “Daar is een spesifieke klousule in die regulasies wat lui dat die aanspreeklike beampte én die oortreder verantwoordelik gehou sal word as die regulasies oortree word.”

Die ander goeie aspek van die regulasies is volgens Allan dat munisipaliteite verplig word om ’n kostebesparingsbeleid te hê en dat dit op sy webwerf gepubliseer moet word.

“As jy dus sien dat ’n burgemeester van 'n arm dorp met ’n Porche Cayenne rondry, kan jy gaan vasstel wat die kostebeparingsbeleid van daardie spesifieke munisipaliteit bepaal.”

Die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid het ook die vasklamping op die “burgemeesterssoustrein” en ander verkwistende uitgawes deur munisipaliteite verwelkom. Geoff Jacobs, president van die kamer, het die regulasies as die “beste nuus in weke” beskryf. “Bykans twee derdes van ons munisipaliteite is wanfunksioneel of in finansiële nood en dit is hoog tyd vir ferm optrede.”

Met verwysing na die R17 miljard wat munisipaliteite aan Eskom skuld, het hy gesê dit lyk asof baie munisipaliteite geld vir elektrisiteit invorder, maar dit word bestee aan ander projekte “wat nie net verkeerd is nie, maar ook oneerlik”.

Mohammed Lorgat, direkteur van ouditondersteuning by die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsorganisasie (Salga) het gesê die organisasie steun oorhoofs die regulasies en verstaan die rasionaal daaragter. “As ons kan koste sny, is dit goed. Dit kan egter nie een grootte wees wat almal pas nie. Die gebruik van openbare vervoer kan in metro’s werk omdat dit stelsels goed ontwikkel is, maar dit kan dalk nie werk in die Gariep-distriksmunisipaliteit waar die afstande groot is en die enigste vorm van openbare vervoer ’n taxi is nie.”

Hy glo egter dat die regulasies ook op sowel provinsiale as nasionale vlak van toepassing moet wees.

Dié standpunt word ook deur die DA gesteun.

Geordin Hill-Lewis, DA-LP, het die nuwe regulasies verwelkom, maar glo dit moet verder as munisipaliteite strek. Hy beplan om aan Mboweni te skryf daaroor. “Strenger kostebesparingsmaatreëls behoort uitgebrei te word na alle regeringsfere en staatsentiteite en daar behoort werklike gevolge te wees vir mislukking om daaraan te voldoen.

“Met baie nuwe ministers en adjunkministers sal daar ’n spul bestellings vir duur nuwe motors en opknappingswerk by kantore en huise wees. Dit behoort nou stopgesit te word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.