Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Art.25 - EFF nie by sittings in parlement

Die EFF, wie se aktivisme daartoe gelei het dat die ANC ’n mosie deur die parlement gedruk het om die Grondwet se eiendomsklousule te wysig, woon geen van die vergaderings by waar LP’s moet besluit hoe die Grondwet se art. 25 gewysig moet word nie, wys parlementêre verslae.

Die grondwetwysigingsproses het trouens skouspelagtig ineengestort – slegs die ANC en DA se LP’s het vir meer as 50% van die komitee se vergaderings sedert die begin van die jaar opgedaag.

Julius Malema Foto: Getty

Daar is selfs komiteelede wat glo geen wysiging sal gedoen word nie weens tweedrag tussen die ANC en die EFF, gebreke in die openbare deelnameproses verlede jaar en ’n toenemende besef in die ANC dat radikale grondhervorming prakties onuitvoerbaar is.

Die EFF-leiers Julius Malema en Floyd Shivambu, wat dié party op die komitee verteenwoordig, het net die stigtingsvergadering op 12 Februarie bygewoon waar Thoko Didiza van die ANC as voorsitter aangewys is. Sedertdien het die komitee nog vier keer vergader om getuienis van genooide kundiges aan te hoor.

Die komitee moes voor die einde van die huidige parlementsitting ’n verslag aan die Nasionale Vergadering voorlê waarin wysigings aan die Grondwet voorgestel word wat uitdruklik voorsiening maak vir onteiening sonder vergoeding.

Die komitee het egter verlede week op sy laaste vergadering besluit om die parlement in te lig dat hy nie dié taak kan afhandel voordat die parlement Woensdag vir die verkiesing verdaag nie. Die nuwe parlement wat ná die verkiesing op 8 Mei tot stand kom, moet die proses met ’n nuwe komitee verder voer.

Afgesien van Didiza is net een van die ses ANC-lede op die komitee op die kandidatelys van die regerende party wat op 8 Mei herkies kan word. Didiza self word beskou as die gunsteling wat aangewys kan word as speaker van die nuwe parlement. Dit is onwaarskynlik dat sy die spesiale komitee se voorsitter sal bly. Die ANC en DA se verteenwoordigers is verreweg die gereeldste bywoners van komiteevergaderings.

Maar daar is nou ernstige bedenkinge daaroor of die Grondwet selfs ná die verkiesing gewysig gaan word.

’n Senior opposisie-LP het aan Rapport gesê die ANC en EFF het ’n “uitval” gehad oor onteiening sonder vergoeding.

“Die ANC-lede is glad nie meer gretig oor grondonteiening nie – daar is te veel van hulle wat self twee of meer eiendomme besit, soos ’n huis in die stad waar hulle werk en ’n tweede familie-eiendom in ’n landelike gebied waarvandaan hulle kom,” het ’n senior parlementslid gesê wat op die spesiale komitee dien.

Dr. Corné Mulder van die VF Plus het waarnemerstatus op die spesiale komitee en het geen van die vergaderings bygewoon nie.

“Die opdrag van die komitee was dat die verslag gelewer word voordat die parlement verdaag. Dit was van die begin af duidelik dat daar geen manier is om dit te doen nie. Dit sou tydmors wees om daar te sit terwyl die voorbereidsels vir die verkiesing aan die gang is. Daar is ook geen sprake van ’n behoorlike openbare deelnameproses nie,” sê Mulder.

Hy glo ook die ANC verloor sy aptyt vir ’n grondwetwysiging, omdat die omstrede voorgestelde wysigings aan die onteieningswet dit makliker maak vir die staat om ’n nulwaarde aan grond te heg. Om dié wet deur te druk, het die ANC nie ’n tweederdemeerderheid nodig soos vir ’n Grondwetwysiging nie.

“Dit kan die ANC deurvoer met ’n gewone meerderheid en het nie die EFF daarvoor nodig nie. Die regering wil ná die wysiging een of twee toetssake deur die hof voer waarin die eienaars van grond wat sonder vergoeding onteien word, sal moet bewys dat dit ongrondwetlik is. Die hof sal dan daaroor moet uitspraak gee. Dit is dus onnodig vir die ANC om die Grondwet te wysig,” sê Mulder.

Daar is egter kritiek teen die nuwe onteieningswet omdat dit net gemik is op landbougrond en volgens een kritikus niks doen om die nood aan stedelike grond te verlig nie. “Die eintlike behoefte is om grond in groot stede beskikbaar te stel,” het een van die komiteelede gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.