Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Storm woed oor Prasa-hoof en kontrak

Die waarnemende hoof van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) is glo op die punt om ’n ooreenkoms te onderteken wat nie net alle wetgewing oor dié diens verontagsaam nie, maar Prasa ook blootstel aan ongemagtigde en onreëlmatige besteding.

Dr. Nkosinathi Sishi. Foto: Argief

Daily Maverick het Maandag berig dr. Nkosinathi Sishi het “eensydig en in die geheim” onderhandel oor ’n ooreenkoms met die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (DBSA) wat dit vir dié bank moontlik sal maak om R400 miljoen te verdien om infrastruktuurprojekte vir Prasa voor te stel en te bedryf.

Nana Zenani, kommunikasiehoof van Prasa, het by navraag gesê Prasa wil nie in hierdie stadium kommentaar lewer nie. ’n Woordvoerder van die DBSA het gesê dié organisasie sal Dinsdag ’n verklaring oor die saak uitreik.

Sishi, ’n voormalige LUR vir onderwys in KwaZulu-Natal, het in Februarie by Sibusiso Sithole, wat ook as waarnemende hoof van Prasa gedien het, oorgeneem. Sishi is van die departement van vervoer na Prasa gesekondeer.

Die berig is geskryf deur onder andere Pieter-Louis Myburgh aan wie die Taco Kuiper-prys vir ondersoekende joernalistiek toegeken is vir sy vroeëre onthullings oor Prasa.

Luidens die berig is Prasa se direksie en die organisasie se uitvoerende komitee glo in die duister oor die projek, die nodigheid daarvoor en hoe dit ontwikkel is.

Die ooreenkoms stem volgens Daily Maverick baie ooreen met die omstrede ooreenkoms wat Eskom in 2016 met die internasionale bestuurskonsultasiefirma McKinsey gesluit het. Dit het Eskom uiteindelik sowat R1,6 miljard gekos.

“Prasa se ooreenkoms met die DBSA is nie net ’n oortreding van die wette wat die spooragentskap en alle ander staatsentiteite reguleer nie, maar dit oortree die mees basiese vereistes van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur wat bepaal dat daar ’n mededingende tenderproses vir alle groot uitgawes moet wees,” berig Daily Maverick.

Die kontrak sal drie keer groter wees as Prasa se jaarlikse inkomste.

Die kontrak sal drie keer groter wees as Prasa se jaarlikse inkomste.

Sommige lede van Prasa se uitvoerende komitee het volgens Daily Maverick gesê hulle dra geen kennis van hoe die voorgestelde ooreenkoms ’n werklikheid geword het nie.

’n Ingeligte sê lede van die komitee het eers van die voorgestelde ooreenkoms bewus geword nadat Sishi ’n afskrif van sy brief aan die DBSA aan Martha Ngoye, Prasa se regshoof, gegee het.

Benedict Khumalo, ’n senior bestuurder in Prasa se regsafdeling, het op 6 Mei in ’n brief aan Sishi gewaarsku die regte verkrygingsproses is nie gevolg nie.

As daar so ’n proses was, is dit nie vir advies aan die regsafdeling voorgelê nie.

Die DA het ná Sishi se aanstelling as waarnemende hoof gesê hy is bekommerd omdat Sishi geen bedryfservaring in die vervoersektor het nie.

Meer oor:  Prasa  |  Kontrak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.