Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Storm woed voort in ANC oor Survé se skenking

Die Wes-Kaapse ANC is besig om “kop te krap” oor verdere stappe oor die R1 miljoen-skenking van die omstrede sakeman dr. Iqbal Survé, wat skynbaar ernstige verdeeldheid in die provinsiale partystrukture tot gevolg gehad het.

Die sakeman Iqbal Survé stel sy saak voor die Mpati-kommissie. Foto: Phill Magakoe

Die Kaap van Storms het dié naweek sy naam in die Wes-Kaapse ANC-strukture – meer spesifiek Vrydag op ’n vergadering van die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) – gestand gedoen oor dié skenking. Die gemoedere het glo hoog geloop.

Khaya Magaxa, waarnemende ANC- provinsiale leier, wat die voorsitter van die vergadering was, het na verneem word die vergadering ná vurige bespreking beëindig en is saam met sewe ander daar weg.

Nadat hulle weg is, het die oorblywende teenwoordiges egter besluit om die vergadering sonder hulle voort te sit.

Vier waarnemers van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het na verneem word die vergadering bygewoon.

Ná die vergadering is aangekondig dat die besluit van die provinsiale werkkomitee dat Maurencia Gillion, provinsiale tesourier, geskors moet word, opgehef is.

Gillion is verlede Woensdag geskors nadat dit aan die lig gekom het dat die skenking nie terugbetaal is nie.

Daar is ook besluit dat Lionel Adendorf onthef sal word van sy verantwoordelikheid as politieke hoof van kommunikasie, terwyl Mahendra Shunmoogam, administrateur van die provinsiale ANC se Twitter-rekening, vervang sal word.

Maurencia Gillion is verlede Woensdag geskors nadat dit aan die lig gekom het dat die skenking nie terugbetaal is nie.

Adendorf het Sondag ’n prokureursbrief aan die ANC gestuur waarin hy aandui dat enige besluit wat geneem is nadat die voorsitter die vergadering afgesluit het, nie regsgeldig is nie. Hy het die party vyf dae gegee om hom om verskoning te vra en die wanindruk oor hul “besluite” reg te stel.

Dennis Cruywagen, provinsiale ANC-woordvoerder, het op vrae oor die R1 miljoen-skenking gesê toe die geld aan die ANC oorbetaal is, is daarvan dadelik aan die ANC se ses strukture – metropool, Boland, Overberg, Suid-Kaap, Weskus en Sentraal-Karoo – oorbetaal.

“Die streke was in ’n benarde situasie,” het hy gesê en aangedui dat die geld gebruik is vir die laaste deel van die verkiesingsveldtog vir onder meer kos vir vrywilligers en vervoer.

Geen geld is egter aan Survé terugbetaal nie, het Cruywagen gesê. Hy was nie bereid om ’n opgaaf van betalingsbesonderhede van die geld te verskaf nie.

“Daar is ’n bedrag geld oor. Ek kan egter nie die volle bedrag bekend maak nie. Ons sal nou begin kopkrap oor hoe en watter stappe ons gaan doen.”

Ontevredenheid heers ook in partystrukture oor ’n Twitter-rekening wat glo gebruik is om “lasterlike” inligting oor sekere ANC-lede en takke te versprei.

* Cruywagen wou nie op vrae reageer oor ’n brief waarin Ebrahim Rasool, ANC se Wes-Kaapse verkiesingshoof, Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, na berig word blameer vir die party se swak verkiesingsuitslae in die provinsie nie.

Rasool het Magashule glo daarvan beskuldig dat hy die veldtog “skade berokken” het.

Rapport het berig Rasool het 12 dae voor die verkiesing vrae aan die ANC se topleierskap gerig oor “ongekende ingryping” by die ANC se verkiesingsveldtog. Hy beskuldig Magashule in die brief daarvan dat hy opdrag gegee het aan provinsiale strukture dat hy geïgnoreer word en dat slegs Magashule en Faiez Jacobs, provinsiale sekretaris, in beheer sal wees van die verkiesingsveldtog.

“Ek wil nie by beweringe oor Ace Magashule betrokke raak wat Rasool se persoonlike mening is nie,” het Cruywagen gesê.

Pule Mabe, nasionale ANC-woordvoerder, het nie Sondag ’n onderneming om op navrae te reageer gestand gedoen nie. Nóg Magaxa, nóg Jacobs het Sondag hul selfone beantwoord.

Meer oor:  Iqbal Survé  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.