Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Straf is te lig – dank Mapisa-Nqakula eerder af’
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Daily Sun

Pres. Cyril Ramaphosa moet Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, onmiddellik afdank eerder as om haar net liggies op die vingers te tik vir ernstige magsmisbruik.

Mapisa-Nqakula het toegelaat dat ’n senior ANC-afvaardiging met ’n militêre vliegtuig na Zimbabwe reis.

Opposisiepartye het Ramaphosa Sondag hewig gekritiseer oor die “ligte straf” wat hy Mapisa-Nqakula hiervoor opgelê het.

Groot verontwaardiging

Groot openbare verontwaardiging het geheers nadat dit aan die lig gekom het dat die ANC-afvaardiging, onder leiding van Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, op 8 September saam met Mapisa-Nqakula in ’n Falcon 900-straler na en van Harare gereis het om met die regerende Zanu-PF-party oor die Zimbabwe-krisis te gaan praat.

Ramaphosa het Saterdagaand volgens ’n verklaring wat deur die presidensie uitgereik is, aangekondig dat hy Mapisa-Nqakula “formeel” daaroor berispe het.

Sy moet as verdere straf ook van 1 November af drie maande se salaris aan die Solidariteitsfonds oorbetaal.

Kobus Marais - 'nie goed genoeg'

Sy moet ook verseker dat die ANC-afvaardiging vir die vlugte betaal.

“Terwyl die minister op ’n amptelike reis was waarvoor sy toestemming van die president gehad het en geregtig was om ’n lugmagvliegtuig te gebruik, het hy bevind dat dit ’n oordeelsfout was om die vliegtuig te gebruik om ’n politieke party-afvaardiging te laat saamvlieg,” lui die verklaring.

Ramaphosa het bygevoeg dat die straf ook dui op die erns waarmee hy die aangeleentheid beskou.

Kobus Marais, DA-woordvoerder oor verdediging, het Sondag gesê dat dit nie “goed genoeg” is dat Ramaphosa vir Mapisa-Nqakula net berispe het vir die misbruik van staatshulpbronne nie en dat sy eerder onmiddellik afgedank moet word.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula Foto: Dailly Sun

Volgens hom toon dit ook hoe “swak” Ramaphosa is om ANC-lede en ministers aanspreeklik te hou.

Marais meen dit is soortgelyk aan hoe oudpres. Jacob Zuma destyds aanspreeklikheid ontduik het ná die Nkandla-skandaal, waar staatshulpbronne ook misbruik is.

Hy meen dit kan daarom nie toegelaat word dat Mapisa-Nqakula “skotvry” daarvan afkom nie, veral omdat dit nie haar eerste oortreding is nie.

Pieter Groenwald - dit 'paai net'

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het Sondag Mapisa-Nqakula se straf beskryf as “bloot ’n skyngebaar om die publiek te paai”. Die VF Plus meen sy moet onmiddellik afgedank word.

Mkhuleko Hlengwa, IVP-woordvoerder, het vroeër in ’n verklaring gesê dat die gebruik van ’n militêre straler deur die ANC kommerwekkend is, “omdat dit die ANC se doelbewuste keuse om die skeiding van die party en staat te minag, uitlig”.

Bheki Mngomezulu - 'skadebeheer'

Prof. Bheki Mngomezulu, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het Sondag gesê dat Mapisa-Nqakula se straf “net skadebeheer en ’n reaksie op ’n krisis is ná hewige openbare verontwaardiging”.

“Dit is eintlik ’n klap in die gesig van Suid-Afrikaners.

“Die werklikheid is dat Ramaphosa as ANC-president presies geweet het hoe die ANC-afvaardiging in Zimbabwe sou kom. Ek vermoed daar was ’n ooreenkoms met die minister omdat die president in aanloop tot volgende jaar se plaaslike verkiesings net die regte beeld vir die ANC by kiesers wil skep,” het Mngomezulu gesê.

Theo Venter - wel streng optrede

Theo Venter, ’n politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, meen Mapisa-Nqakula se straf is die “strengste optrede buiten om uit die kabinet gelaat te word”.

Hy meen Mapisa-Nqakula se optrede dui op “politieke arrogansie en ’n vermenging van party en staat”.

“Die verklaring van president Ramaphosa wys egter dat daar ook hier ’n streep in die spreekwoordelike sand getrek is.”

Volgens hom dui die Zimbabwe-sage ook op spanning binne die weermag met betrekking tot die rol van MK-veterane. Hy meen nog verdere politieke teenstand kan binne die volgende dae en weke van gefrustreerde MK-veterane verwag word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.