Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Verslag lek uit:
Strop al hoe stywer om Gigaba

Die strop trek al hoe nouer om die nek van Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, nadat ’n uitgelekte verslag van die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings bevind het hy het ’n aandeel in staatskaping.

Gigaba het dadelik teruggekap en sê dit is deel van ’n sameswering teen hom.

Die naam van Lynne Brown, voormalige minister van openbare ondernemings, word ook in die voorlopige konsepverslag van die portefeuljekomitee genoem onder dié wat moontlik strafregtelike vervolging in die gesig staar.

Malusi Gigaba

Gigaba het Maandag die Lindela-repatriasiesentrum in Krugersdorp saam met Fred Matiang’i, sy Keniaanse ampsgenoot, besoek. Hy het daar aan joernaliste gesê die uitlek van die verslag is deel van ’n weldeurdagte plan om sy naam te beswadder sonder dat hy die geleentheid het om daarop te reageer.

Hy het later gesê hy gaan sy regspan oor die uitlek van die verslag konsulteer, asook die ANC oor moontlike optrede.

Business Day het  berig Gigaba en Brown tel onder die 44 mense en 25 maatskappye wat luidens die verslag glo ’n aandeel in staatskaping het.

Senior personeellede van die internasionale konsultasiemaatskappy McKinsey en die ouditgroep KPMG word ook genoem.

Die verslag moet nog deur die portefeuljekomitee self goedgekeur word, sê Zukiswa Rantho, ANC-LP wat as voorsitter van die ondersoek opgetree het.

Rantho het Gigaba probeer gerusstel dat die regte prosedure steeds gevolg sal word, berig Bonolo Selebano.

“Hulle sal die geleentheid gebied word om die verslag te lees. Dit sal aan die mense gestuur word wat geïmpliseer is voordat dit aan die parlement voorgelê word.”

Die DA het Maandag gesê belastingbetalers behoort nie te betaal vir Gigaba se regskoste in die hangende hofsaak wat sy lot moet bepaal nie.

Die verslag sal aan die mense gestuur word wat geïmpliseer is voordat dit aan die parlement voorgelê word.
Zukiswa Rantho, ANC-LP

Daarom gaan die party die staatsprokureur versoek om Gigaba se aansoek om staats-hulp vir sy regskoste af te keur, sê Mmusi Maimane, DA-leier.

Die DA dien op 11 Maart ’n aansoek by die hooggeregshof in Pretoria in dat pres. Cyril Rama-phosa se besluit om Gigaba en Bathabile Dlamini as ministers aan te stel, hersien en tersyde gestel moet word. Dlamini is minister van vroue in die presidensie. Die DA bestempel dié twee se aanstelling as onwettig omdat die konstitusionele hof verdoemende bevindings teen albei gemaak het.

Dat Gigaba en Dlamini in hul ampte aanbly met multimiljoenrand-salarisse en voordele wat deur gewone Suid-Afrikaners betaal word, is volgens Maimane ’n aanklag teen Ramaphosa.

Die DA gaan ook vra dat Ramaphosa as president die regskoste moet betaal van die aansoek saam met die ander respondente wat dit sal teenstaan.

“Dit is om te verseker dat Gigaba of Dlamini uit hul eie sakke sal betaal as hulle sou verkies om ’n Zuma-agtige vertragingstegniek in te span.”

Maimane sê ook dat die DA strafregtelike klagte van onder meer meineed teen Gigaba by die polisie ingedien het nadat die openbare beskermer bevind het dat hy in die Fireblade Aviation-sage gelieg het.

Gigaba het Sondag aan eNCA gesê hy sal bedank as Ramaphosa hom sou vra om dit te doen.

Meer oor:  Malusi Gigaba  |  Kaapstad  |  Parlement  |  Parlementêre Komitee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.