Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Strop trek ál nouer om Zuma se nek

Die strop trek nóg stywer om oudpres. Jacob Zuma se nek omdat adjunkhoofregter Raymond Zondo hom nou dwing om teen sy wil in November voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping te verskyn.

Dié verwikkeling kom nadat Zondo Vrydag ’n aansoek van die kommissie se regspan om Zuma te dagvaar om van 16 tot 20 November vanjaar te verskyn, goedgekeur het.

Intussen het Carl Niehaus, ’n stoere Zuma-ondersteuner, Vrydagoggend tydens ’n protesoptog teen Zondo deur meer as 300 Zuma-lojaliste in Johannesburg hoog en laag gesweer dat Zuma nie op die geskeduleerde datums sal verskyn “vir solank as wat Zondo betrokke is” nie.

“Zuma se regspan sal nou in verbinding tree met die kommissie,” het Niehaus bygevoeg.

Die betogers, wat struggle-liedjies gesing het, se boodskap was ook duidelik: “Ons is hier ter ondersteuning van oudpres. Zuma. Raak aan Zuma en julle raak ons. Zuma is ons, en ons is Zuma!”.

Oudpres. Jacob ZumaFoto: Daily Sun

Volgens Niehaus is hulle “moeg” vir Zondo se vooroordeel teenoor Zuma.

Die betogers het ’n memorandum aan die kommissie oorhandig en eis dat Zondo moet onttrek. Hulle was ontevrede omdat Zondo dit nie self ontvang het nie.

Die groep, wat ook vir Ace Magashule, ANC sekretaris-generaal ondersteun, sal Maandag weer betoog en dreig om “die hele Gauteng tot stilstand te bring”.

LEES OOK: Zuma sal nie voor kommissie verskyn as Zondo daar is

Zondo het Vrydag ná die betoog van adv. Paul Pretorius SC, hoofgetuienisleier, dat ’n dagvaarding aan Zuma uitgereik moet word, gesê hy is tevrede dat ’n saak daarvoor uitgemaak is.

Hy het gelas dat Zuma hom van 16 tot 20 November daagliks van 10:00 beskikbaar moet stel vir die kommissie.

Weens sy ouderdom en Covid-19 kan Zuma volgens Zondo ook deur ’n video-verbinding getuig.

Dit is egter onwaarskynlik dat Zuma dié bevel sal eerbiedig.

Dít nadat sy regspan, wat in hul afwesigheid Vrydag se aansoek om ’n dagvaarding teengestaan het, onlangs ook in ’n brief aan die kommissie aangedui het hulle sal binnekort ’n aansoek indien dat Zondo hom moet onttrek. Zuma glo die regter is “bevooroordeeld” en “het ’n partydige ingesteldheid teenoor Zuma”.

Omdat die kommissie dieselfde magte as ’n hooggeregshof het, kan ’n lasbrief vir Zuma se inhegtenisneming uitgereik word as hy nie verskyn nie.

Pretorius het in sy betoogrede onder meer aangevoer Zuma se getuienis is belangrik vir die kommissie omdat 34 getuies hom tot dusver by ernstige beweringe van korrupsie en staatskaping betrek het.

Volgens Pretorius is die kommissie “eenvoudig net te naby aan sy einde” en kan die hele ondersoek ontspoor as Zuma nie sy weergawe stel nie. Dit is veral die geval omdat die kommissie se verwysingsraamwerk Zuma direk noem.

Pretorius het gesê Zondo het dus ’n regsplig om Zuma te dagvaar.

Volgens hom is dagvaardings ook nie ongewoon nie omdat die kommissie tot dusver al 2 500 dagvaardings vir dokumentêre getuienis en 99 vir getuies uitgereik het.

Die kommissie moet sy werk teen Desember afhandel. Zondo moet sy verslag teen Maart 2021 indien.

Intussen het adv. Glynnis Breytenbach, DA-LP en woordvoerder oor justisie, Vrydag toe dié party Zondo se beslissing verwelkom het, gesê Suid-Afrika het “eerlikwaar moeg geword van Zuma en sy Stalingrad-taktieke”.

“Zuma het die afgelope paar maande probeer om die werk van die kommissie en die karakter van regter Raymond Zondo verdag te maak.

“Die onverdiende aanvalle op die kommissie is egter net rookskerms om af te lei van een van die grootste dade van diefstal wat ons land nog gesien het,” het Breytenbach gesê.

Meer oor:  Carl Niehaus  |  Zondo-Kommissie  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.