Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Stryd begin om onteiening sonder vergoeding te stuit

Die geveg het begin om te keer dat onteiening sonder vergoeding ’n werklikheid word.

Bennie van Zyl (regs), hoofbestuurder van die landbou-organisasie TLU SA, praat Woensdagmiddag in Centurion op die Sakeliga se beraad oor onteiening sonder vergoeding terwyl dr. Theuns Eloff, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting, toekyk. Foto: Sarel van der Walt

Al lê ’n lang pad voor om dié plan van die ANC en die EFF te stuit, sal daarmee volhard word omdat die prys te hoog is om te betaal as dit faal, het Piet le Roux, uitvoerende hoof van die Sakeliga, Woensdagmiddag op ’n mediakonferensie in Centurion gesê ná ’n beraad oor onteiening sonder vergoeding.

Suid-Afrika kan nie die pad van Zimbabwe en Venezuela volg nie, wat onteiening sonder vergoeding toegelaat en ’n duur prys daarvoor betaal het, sê Le Roux.

Die Nasionale Vergadering (NV) het Dinsdag ’n parlementêre verslag aanvaar wat grondonteiening sonder vergoeding aanbeveel het.

Die Sakeliga het die beraad gereël waaraan verskeie burgerlike organisasies en politieke partye deelgeneem het wat teen onteiening sonder vergoeding is.

Die DA, Cope, ACDP en die VF Plus was almal verteenwoordig.

Onder die organisasies wat ook op die beraad was, is Agri SA, AfriForum, die Afrikanerbond, die organisasie Dear South Africa, die FW de Klerk-stigting, die Johannesburgse Prokureursvereniging, die Sakeliga, Solidariteit, TLU SA en die Vryemarkstigting.

Adv. Mark Oppenheimer (middel) praat Woensdag in Centurion op die Sakeliga se beraad oor onteiening sonder vergoeding. Links sit Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en regs is Piet le Roux, uitvoerende hoof van die Sakeliga. Foto: Sarel van der Walt

Le Roux sê regsoptrede – hetsy gesamentlik deur die partye en organisasies óf afsonderlik – sal ’n belangrike deel van die geveg uitmaak.

Le Roux sê ’n voorgestelde verklaring oor die kwessie sal nou voorberei word en later vir goedkeuring op ’n volgende beraad voorgelê word.

Die Sakeliga is die koördineerder.

Woensdag se beraad was die tweede van sy soort. Die eerste beraad is in Maart gehou kort nadat pres. Cyril Ramaphosa aan bewind gekom het.

Adv. Mark Oppenheimer, wat die Johannesburgse Prokureursvereniging verteenwoordig, het op die beraad gesê omdat die bewoording van die wysiging aan die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak nog nie bekend is nie, is dit baie moeilik om te bepaal “wat die omvang van die skade” is wat dit sal aanrig.

Dit is belangrik dat die Grondwet nie geskend moet word nie, sê Oppenheimer.

“Mense wie se grond onregmatig van hulle afgeneem is, moet daarvoor vergoed word. Die Grondwet (soos hy nog daaruit sien) maak voorsiening daarvoor.

“Ons sal begin om in ons regsoptrede die proses uit te daag wat gebruik is om onteiening sonder vergoeding te aanvaar.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van die Sakeliga, Woensdag in Centurion aan die woord op die beraad oor onteiening sonder vergoeding wat dié organisasie gereël het. Foto: Sarel van der Walt

“Die meerderheid van die voorleggings aan die parlementêre komitee, wat die kwessie ondersoek het, was gekant teen onteiening sonder vergoeding. Dié voorleggings is geïgnoreer. Hierdie is ’n aanval op ons demokrasie,” sê Oppenheimer.

“Wanneer jy inmeng met mense se eiendomsreg, meng jy in met hul integriteit.”

Dr. Theuns Eloff, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting, sê dié stigting is ten gunste van spoedige grondhervorming, maar gekant teen die wysiging van die Grondwet.

Hy sê daar is in ’n geslote sessie (wat nie vir die media oop was nie) baie gepraat oor die waardigheid van dié mense wat na grond hunker. “Eiendomsreg gee waardigheid.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê hy het op die beraad nuwe hoop gekry omdat daar soveel teenkanting teen die wysiging van die Grondwet is.

“Hier is ’n groot bereidwilligheid om saam te werk. Ons moet dit doen in die belang van almal in die land,” sê Kriel.

Hy meen die stryd kan baie jare duur.

Die internasionale gemeenskap sal volgens hom ook gevra word om druk op die ANC uit te oefen omdat Suid-Afrika die ondertekenaar is van baie internasionale konvensies wat eiendomsreg beskerm.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het gewaarsku hiperinflasie, hoë brandstofpryse en voedseltekorte kan die gevolge wees van onteiening sonder vergoeding.

“Dit is wat in Zimbabwe en Venezuela gebeur het. Die ANC het Suid-Afrika nou met vigs ingespuit en verwag resultate wat die land sal laat groei.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.