Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Stryd gewen om verlof vir pa’s, nuwe stryd wag

Elke Suid-Afrikaner “kan trots wees op die wysiging van die Arbeidswet” wat nou tien dae ouerskapsverlof – met dekking van die Werkloosheidsversekeringsfonds – toestaan.

Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydag dié wysigingswet onderteken.

Hendri Terblanche het sy stryd om meer verlofdae vir nuwe pa’s toe te laat, gewen. Dié foto is in Augustus 2018 geneem. Foto: Jaco Marais

Hendri Terblanche, wat in 2014 die proses aan die gang gesit het om dié wet te wysig deur ’n versoekskrif hieroor aan die parlement te rig, het die wysiging verwelkom en gesê alle Suid-Afrikaners het rede om trots daarop te wees.

Hy het Cheryllyn Dudley van die ACDP gelukgewens omdat sy die privatelede-wysiging aan die parlement voorgelê het na aanleiding van Terblanche se versoekskrif.

Ingevolge die wysiging kry die ouer wat nie vir swangerskapsverlof kwalifiseer nie, nou tien opeenvolgende dae se ouerskapsverlof wanneer die kind gebore is.

Die wysiging laat twee maande en tien dae opeenvolgende verlof toe vir iemand wat ’n kind jonger as twee jaar aanneem. As daar twee aanneemouers is, is die een wat nie aannemingsverlof neem nie, geregtig op die ouerskapsverlof van tien dae.

Dieselfde geld paartjies van dieselfde geslag.

Terblanche se loopbaan in maatskaplike geregtigheid het begin toe sy vrou, Giselle, op 26 weke die lewe aan Danté en Juandré geskenk het. Danté, wat outisties is, moes 139 dae in die neonatale hoësorgeenheid bly en Juandré het 79 dae daar deurgebring.

Hy het op 3 Julie 2014 die versoekskrif gerig aan Thandi Modise, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP). Dit het gevolg op honderde briewe wat hy in Junie per e-pos aan “elke LP” gestuur het.

Ná vier jaar het die NRP die Wetsontwerp op die Wysiging van die Arbeidswet goedgekeur en Ramaphosa het dit Vrydag geteken.

“Dit is belangrik dat albei se ouers se rol as versorger erkenning kry en die nuwe wetgewing gee aan almal ’n gelyke kans. Die vraag is net of dié geleentheid gebruik gaan word,” sê Terblanche.

Die ouers het ook ’n verantwoordelikheid teenoor hul werkgewers, en met dié wysiging kan hulle nou hul verlofdae beter bestuur, sê hy.

Sy volgende stryd – “ouerversorgingsverlof” – het begin toe borskanker in 2015 by sy skoonma, wyle Alice Bruwer, gediagnoseer is. Dit is ook ter ere van sy ouers. Sy pa, Japie, het Parkinson se siekte en sy ma, Susan, verspreide sklerose.

Hy wil wetgewing laat wysig sodat werknemers hul gesinsverantwoordelikheidsverlof ook kan gebruik as hul ouers siek is. Tans mag die drie dae gesinsverantwoordelikheidsverlof per jaar net gebruik word om kinders wat siek is te versorg, of as die werknemer se ouer gesterf het.

Hierdie wysiging sal na verwagting op 28 November in die parlement aangehoor word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.