Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Stryd teen korrupsie kry stukrag

Die stryd teen korrupsie in die regering het Donderdag nóg stukrag gekry met die arrestasie van nog vier voormalige senior amptenare, die nuus dat pres. Cyril Ramaphosa se eie woordvoerder dissiplinêr in die ANC verhoor gaan word oor tenders vir persoonlike beskermende toerusting en die kabinet se amptelike verwelkoming van die onlangse vlaag van korrupsie-verwante arrestasies.

Jackson Mthembu, minister in die presidensie, het gesê Ramaphosa en sy ministers verwelkom die onlangse inhegtenisnemings van hooggeplaaste politici en sakemense weens beweerde korrupsie met Covid-19-tenders en in die asbesdak-skandaal in die Vrystaat.

Die kabinet sê dit wys ook dat niemand bo die reg verhewe is nie en dat die regering daartoe verbind is om diegene aanspreeklik te hou wat aanhou om wette te oortree en arm Suid-Afrikaners van dringende staatshulp te beroof.

Mthembu het terugvoering gegee oor die besluite wat die kabinet Woensdag op ’n virtuele vergadering geneem het.

Jackson Mthembu

Volgens hom het die kabinet ook die inhegtenisnemings verwelkom van mense wat na bewering by bedrog, geldwassery en diefstal betrokke is. “Die kabinet waardeer en ondersteun ook alle pogings om staatsgeld te verhaal van diegene wat by bedrieglike bedrywighede betrokke was. Die kabinet het daarom ook ’n beroep op die publiek gedoen om hul deel te doen deur diegene wat by sulke misdade betrokke is, by die nasionale teenkorrupsie-inbellyn by 0800 701 701 aan te meld.”

Ook adj.pres. David Mabuza het dit Donderag duidelik gestel dat niemand in die samelewing óf die ANC bo die reg verhewe is nie en gesê wetstoepassers moet enigiemand weens beweerde korrupsie en ander misdade in hegtenis neem “ongeag hul status”.

Mabuza het in ’n vraesessie in die parlement geantwoord op ’n vraag van Siviwe Gwarube, ’n DA-LP, wat wou weet of hy die verwydering uit hul staats- of partyposte ondersteun van polities verbonde individue en ANC-leiers “soos Ace Magashule (sekretaris-generaal van die ANC), Nomvula Mokonyane, Bandile Masuku en Khusela Diko (Ramaphosa se woordvoerder)” terwyl beweringe van misdrywe teen hulle ondersoek word.

Mabuza het gesê hy wil nie namens die ANC praat nie maar Suid-Afrikaners moet geloof in wetstoepassingsagentskappe hê en hulle die ruimte, ondersteuning en respek gun om hul werk sonder enige politieke inmenging te doen.

“As ons enigiets verkeerd gedoen het, of ek nou die adjunkpresident of die sekretaris-generaal is, is ek nie verhewe bo die reg van hierdie land nie.”

Ondertussen is gister ook aangekondig dat Diko en Masuku, voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, na die ANC se provinsiale tugkomitee verwys is.

Parks Tau, tesourier van die ANC se provinsiale uitvoerende komitee (PUK) in Gauteng, het gister op ’n mediakonferensie gesê die PUK het dié besluit op grond van verskeie verslae geneem.

Die twee mag hangende die tugproses nie aan enige ANC-aktiwiteite deelneem nie.

Hulle is vroeër op spesiale verlof geplaas weens ’n beweerde Covid-19-tenderskandaal.

Die spesiale ondersoekeenheid het vroeër in hofdokumente wat by die spesiale tribunaalhof ingedien is, aangevoer die betrokke tender is onwettig toegeken aan Royal Bhaca Projects, die maatskappy van Diko se man, Thandisizwe.

Die klagte teen Diko en Masuku moet nog geformuleer word.

Die PUK het verder besluit om David Makhura, premier van Gauteng, se besluit te onderskryf om Masuku op grond van ’n verslag van die SOE af te dank.

In nog ’n verwikkeling is vier voormalige senior provinsiale amptenare gister deur die Valke in hegtenis geneem.

Hulle het daarna in die gespesialiseerde handelshof in Palm Ridge verskyn op aanklagte wat verband hou met ’n tender van R1,2 miljard wat in 2017 toegeken is tydens die ampstermyn van die destydse LUR vir gesondheid, Brian Hlongwa.

  • Sybil Ngcobo, Mmakgosi Masupi, Valdis Romaano en Obakeng Mookeletsi staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie, geldwassery en oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur. Hulle is vrygelaat op borgtog wat wissel van R8 000 tot R25 000.

Adj.pres. David Mabuza het gister gesê hoewel Eskom tans ’n duidelike onderhoudsplan in plek het, kan die regering in dié stadium nie waarborg dat daar in die komende maande nie meer beurtkrag in Suid-Afrika sal wees nie.

Mabuza het tydens vraetyd in die parlement gesê die land se elektrisiteitverskaffing bly “baie beperk”.

“Eskom het sleutel-verligtingsmeganismes as deel van sy betroubare onderhoudherstelplan ontwikkel. Hierdie program verskaf verskeie oplossings wat gaan help om die gaping te vul in die verskaffing van elektrisiteit oor die volgende 18 maande.

“Dit sal die moontlike risiko van beurtkrag versag omdat die inisiatiewe alle elektrisiteit-opwekkingsingrypings deur beide Eskom en onafhanklike energie-produsente in ag neem.”

Meer oor:  Jackson Mthembu  |  Stryd  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.