Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Strydkamer sal probleme in spoorvervoer takel – Fikile

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Donderdag die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) se strydkamer bekend gestel. Die doel daarvan is om die veiligheid van spoorvervoer te verbeter.

Die strydkamer, wat teen ’n koste van R1 miljoen opgerig is, hou ook die belofte in dat dit die probleem van laat en onveilige treine sal oplos, het Mbalula gesê.

Die minister het by Prasa se hoofkantoor in Johannesburg ’n kykie gegee op die pogings om die kommer oor die veiligheid van Metrorail-passasiers te takel.

Hy het gesê die strydkamer het spesifieke doelstellings en spertye om die nypende kwessies in die land se spoorvervoerbedryf te takel. Laat en onveilige treine tel onder dié prioriteite.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, stel die Prasa-strydkamer in Johannesburg bekend. .Foto: Bonolo Selebano

So moet Metrorail se treine, wat nou net 50,2% van die tyd betyds is, 85% van die tyd betyds wees.

Daar moet 291 treinstelle beskikbaar wees teenoor die huidige 157.

“Oorvol passasierstreine weens te min treinstelle op enige gegewe dag skep ’n teelaarde vir misdadige bedrywighede en beserings in ons pendelgemeenskap,” het Mbalula gesê.

Die herstel van dienste, veiligheidsbestuur en die implementering van moderniseringsplanne is die drie fokusareas van die strydkamer.

Die teikendatum vir al die verbeteringe is 31 Desember 2019. Die strydkamer sal egter nog tot aan die einde van die heersende geldjaar in bedryf wees.

“Die strydkamer sal gesteun word deur ’n tegniese taakspan wat hoofsaaklik saamgestel is uit kundiges met indiepte-kennis en ervaring in ’n wye reeks velde, waaronder die bedryf van treine, sinjale en veiligheid,” sê Mbalula.

Volgens Prasa se jaarverslag vir 2017-’18 was daar in die boekjaar minstens 1 027 botsings, 450 ontsporings en 588 mense wat deur treine raakgery is. Daar was ook 745 ander voorvalle.

“Die span sal elke dag begin met ’n ontleding van die vorige dag se gevalle en kwessies identifiseer wat vordering belemmer en besluite neem oor hoe dit opgelos moet word.

“Die relevante beamptes met delegeermagte sal die besluite uitvoer en daagliks vorderingsvergaderings hou. Die prestasies sal daagliks bestuur en gemonitor word om volgehoue verbetering te verseker,” het hy gesê.

Mbalula het belowe om die strydkamer in sy eerste 100 dae in sy amp op dreef te kry. Hy het in sy begrotingsrede belowe om die doeltreffendheid en bestuur te verbeter en om permanente uitvoerende hoofde aan te stel in entiteite in sy departement.

Mbalula het joernaliste vroeër Donderdag op ’n besigtigingstoer geneem van Prasa se beheersentrum in Tembisa aan die Oos-Rand. Dié sentrum is ’n gevorderde fasiliteit wat Prasa in staat stel om die hele Gautengse spoornetwerk te monitor en om vinnig te reageer wanneer daar probleme in die netwerk opduik.

Meer oor:  Prasa  |  Fikile Mbalula  |  Politiek  |  Veiligheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.