Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
KYK: Stuur my om vir julle te werk, sê Cyril

Dit wat Suid-Afrikaners verenig, is magtiger as dit wat hulle verdeel.

So het pres. Cyril Ramaphosa gesê nadat hy Saterdagmiddag op ’n byna vol Loftus Versfeld in Pretoria luisterryk deur hoofregter Moegeng Moegeng as president ingehuldig is.

“Ten spyte van verskille en ’n verlede van konflik, verdeeldheid en bitterheid, en ten spyte van strawwe mededinging onder die 48 politieke partye in die pasafgelope verkiesing, het ons ’n gemeenskaplike doel.

“En dit is dat ons kinders beter as ons kan leef en dat ons almal werk het,” het Ramaphosa gesê.

Oudpres. Jacob Zuma het nie vir die geleentheid opgedaag nie. Die rede daarvoor is nog nie bekend nie.

cyril
Pres. Cyril Ramaphosa lewer sy toespraak. Foto: Deaan Vivier

Oudpress. FW de Klerk, Thabo Mbeki en Kgalema Motlanthe was wel hier en het groot toejuiging ontvang.

Sowat 40 buitelandse staatshoofde en voormalige staatshoofde het die inhuldiging – wat op Afrikadag plaasgevind – bygewoon. Die meeste besoekende staatshoofde was uit Afrika.

“Ek is nederig oor jul vertroue in my,” het Ramaphosa gesê terwyl ’n bataljon soldate op Loftus se rugbyveld voor hom in die son gestaan het. Hy het die bataljon as opperbevelvoerder van die weermag geïnspekteer.

Heelparty van die soldate, wat ’n uitstekende drilvertoning gelewer het, het in die warm weer flou geword en moes gelawe word.

“Vandag moet gesien word as ’n keuse van die geskiedenis. Dit is deur ons optrede nou wat ons ons lot as ’n nasie sal bepaal.

“Ons sal ’n samelewing skep waarvoor so baie gesterf en opgeoffer het en waarna almal strewe.

“Ons is bewus van al die probleme wat ons in die gesig staar. Om die Suid-Afrika te bou wat ons wil hê, sal ons ’n buitengewone menslike poging moet aanwend,” het Ramaphosa gesê.

“Die pad vorentoe sal nie maklik wees nie. Ons probleme is groot, maar nie onoorkombaar nie.

“Dit sál opgelos word.”

Cyril ingehuldig
Cyril Ramaphosa word ingehuldig.

Laat ons ’n nuwe era begin, elke hulpbron inspan en ’n maatskaplike pakt vorm, het Ramaphosa gesê.

“Laat ons ook ’n pakt vorm vir ’n doeltreffende, bekwame en etiese staat – een wat vry is van korrupsie en waar verkose amptenare geen ander doel het as om die mense te dien nie.”

Suid-Afrikaners soek nou optrede en nie net nog woorde en beloftes nie.

“Daar sal optrede wees om die land te hervorm tot die land van ons drome.”

Die president het geen name genoem nie, maar gesê in die laaste paar jaar het Suid-Afrikaners gesien hoe mense wat hulle vertrou het, hulself verryk.

“Ons mense het ook oomblikke van twyfel gehad wat by tye gedreig het om hul swaar gewonne vryheid omver te werp,” het Ramaphosa gesê.

“Hulle het gesien hoe ons demokrasie weggekalwe en die staatsgeld geplunder word.

“Ten spyte van al ons pogings die afgelope 25 jaar, is daar steeds te veel Suid-Afrikaners wat saans honger gaan slaap. Te veel van ons mense het nie werk nie,” het Ramaphosa gesê.

“Met die verkiesing op 8 Mei het Suid-Afrikaners die aanbreek van ’n nuwe era bo hopeloosheid verkies. Hulle het besluit Suid-Afrika moet herbou word. 8 Mei was die begin van ’n nuwe era.

Cyril Inhuldiging
Cyril Ramaphsa op pad om die erewag te inspekteer.

“Dit is ons gedeelde wil en verantwoordelikheid om ’n samelewing te bou wat nie bevoorregting of ongelykheid ken nie – waar dié wat het, gelukkig is om met dié wat nie het nie te deel,” het Ramaphosa gesê.

“Noudat ek die eed afgelê het, sê ek: ‘Ja, Suid-Afrika stuur my (om vir julle te werk)’.

“Ek sal julle dien en met julle saamwerk om ’n Suid-Afrika te bou wat julle verdien,” het die president gesê.

Hy het aan die einde van sy toespraak staande applous ontvang.

Die verrigtinge op Loftus, wat onder meer ’n indrukwekkende verbyvlug van vliegtuie van die lugmag en die Suid-Afrikaanse Lugdiens ingesluit het, is met ’n kultuurfees afgesluit.

Ramaphosa het in ’n stadium saam met ’n dansgroep gedans, tot groot vermaak van die skare.

* Die president sal moontlik môre of Maandag sy nuwe kabinet aangekondig.

Meer oor:  Cyril Rama­Phosa  |  Inhuldiging  |  Nuwe Kabinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.