Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Superwiele: DA wil rem trap

Petrolkoppe in die politiek wat hou van hul BMW’s en Mercs moet liewer vir hoë poste in ANC-beheerde wetgewers mik, want hul DA-eweknieë moet met Polo Vivo’s en Toyota Corollas tevrede wees.

Soortgelyke Toyota Fortuners is bestel vir Rob Davies en dr. Blade Nzimande. Hulle was ministers van handel en nywerheid en vervoer. Davies s’n het in 2016-’17 R625 718 gekos en Nzimande s’n in 2017-’18 was R557 927.

Bonginkosi Madikizela, DA-leier in die Wes-Kaap, sê ingevolge die nasionale ministeriële handboek kan lede van die uitvoerende gesag motors koop met ’n waarde van soveel as 70% van hul jaarlikse salaris. In die Wes-Kaap is dié bedrag in 2009 besnoei tot 40%.

“Nasionale uitvoerende lede reis ook besigheidsklas terwyl ons ekonomiese klas vlieg,” sê Madikizela, wat ook die LUR vir vervoer en openbare werke in die provinsie is.

Terwyl ministers en LUR’e in ANC-beheerde wetgewers vyfsterverblyf geniet, mag Wes-Kaapse LUR’e slegs R1 500 per nag vir ’n hotelkamer betaal.

Thulas Nxesi, minister van openbare werke, het in 2017-’18 ’n soortgelyke Mercedes-Benz GLE350D (R1 228 001) bestel.

Die DA het ook weggedoen met die gebruik dat die staat vir die huiswerkers betaal wat agter sy LUR’e bed opmaak en wasgoed was. “Ek betaal my huiswerker uit my eie salaris,” sê hy.

Syfers wat die DA aangevra het, wys dat ANC-ministers en hul adjunkte in net 24 ministeries die afgelope drie jaar byna R50 miljoen aan luukse motors bestee het.

Antwoorde op ’n reeks parlementêre vrae toon die staat het in dié tydperk gemiddeld R950 000 per motor opgedok vir dié 24 amptenare se private gebruik.

Die Land Cruiser 200 het in die 2018-’19-boekjaar R1 298 945 gekos. Stella Ndabeni-Abrahams, minister van telekommunikasie en posdiens, het een bestel.

Dit is R250 000 bo die perk van R700 000 (belasting ingesluit) wat die minister van finansies, Tito Mboweni, nou vir plaaslike regeringslede vasgestel het en wat moontlik ook voorts vir die provinsiale en die nasionale regering sal geld.

Dr. Leon Schreiber, DA-woordvoerder oor die staatsdiens en administrasie, sê die finale koste kan tot R67 miljoen beloop, aangesien nege ministeries versuim het om op die DA se vrae te reageer.

Dit is genoeg om 600 HOP-huise te finansier, sê Schreiber.

Vier ministeries – omgewingsake, toerisme, vroue en ekonomiese ontwikkeling – het aangedui geen voertuie is sedert 2016 aangekoop nie.

In 16 ministeries is Audi’s aangeskaf, in 15 BMW’s en in tien Mercedes-Benze. Hulle is geregtig op ’n motor in Kaapstad en een in Pretoria.

Net die beste was goed genoeg vir Bathabile Dlamini, destyds minister van maatskaplike ontwikkeling, vir wie ’n BMW 740i teen R1,3 miljoen aangeskaf is.

’n Land Cruiser 200, wat ook R1,3 miljoen kos, is in die 2018-’19-boekjaar vir Stella Ndabeni-Abrahams, minister van telekommunikasie en posdiens, bestel. Sy is weer in dié pos aangestel.

Ndabeni-Abrahams se adjunk, Pinky Kekana, het in dieselfde boekjaar ’n Audi Q7 3.0 TDI gekry, wat R1 025 640 gekos het.

Thulas Nxesi, minister van openbare werke, het in 2017-’18 ’n Mercedes-Benz GLE350D (R1 228 001) bestel, benewens ’n Audi Q7 NM teen R1 076 180.

Twee ministers wat die voorbeeld gestel het en eerder Toyota Fortuners bestel het, was Rob Davies (destyds handel en nywerheid) en dr. Blade Nzimande (vervoer). Davies is weggelaat uit die huidige kabinet.

In reaksie op mediaberigte dat ook nasionale ministers deesdae “slegs” R700 000 per motor mag bestee, sê Schreiber dit is ’n “stap in die regte rigting, maar steeds te duur”.

Die regering het nog nie die nuwe handboek bekend gestel nie.

“Daarom het ek ’n Paia-aansoek aan die departement van staatsdiens en administrasie gerig om die dokument openbaar te maak.”

Schreiber beskou die buitensporige bedrae as ’n “vermorsing van staatsgeld”.

“ANC-ministers en adjunkte leef steeds in weelde terwyl byna 10 miljoen Suid-Afrikaners werkloos is.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.