Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Supra moet die waarheid praat oor huurmoord-beweringe, eis DA

As Supra Mahumapelo, vorige premier van Noordwes, onskuldig is oor beweringe dat hy betrokke was by ’n huurmoord op ’n vooraanstaande sakeman, moet hy met die waarheid vorendag kom en nie net dreig nie.

Dit is in die openbare belang dat hy met die waarheid na vore kom om die mites en beweringe oor sy moontlike betrokkenheid te ontmasker, sê Joe McGluwa, DA-leier in Noordwes.

Dit volg ná berigte die naweek dat Mahumapelo en ’n voormalige ANC-burgemeester en huidige LP glo iemand R1 miljoen aangebied het om die sakeman Wandile Bozwana te vermoor.

Mahumapelo, tans ’n ANC-parlementslid en voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor toerisme, ontken dit ten sterkste.

Supra MahumapeloFoto: Argief

Die beweringe teen Mahumapelo-hulle is luidens ’n berig in die Sunday World vervat in ’n beëdigde verklaring wat ’n vermeende huurmoordenaar en bendelid by die Gautengse provinsiale ondersoekeenheid in Mei 2016 ingedien het.

Die huurmoordenaar het ’n staatsgetuie geword en het die polisie glo gelei om sy ander makkers wat ook by die moord op Bozwana betrokke was, in hegtenis te neem.

Vier mans staan tans weens die moord tereg.

Vroeër is berig hoe Bozwana (45) op 2 Oktober 2015 in die Unitas-hospitaal in Centurion dood is nadat hy nege keer geskiet is.

Mpho Baloyi, sy kollega, is ook getref, maar het oorleef.

Die twee wou die betrokke dag die Garsfontein-afrit op die N1 in Pretoria neem toe ’n silwer BMW met vier insittendes langs hulle intrek. ’n Man het uit die BMW gespring en minstens 15 skote na die voertuig geskiet.

McGluwa het Maandag in ’n verklaring gesê hy is nie verbaas om te hoor Mahumapelo dreig om “op die gepaste tyd” uit te kom met inligting oor toppolitici en sakelui nie.

Dit is moeilik om te bepaal wat die waarheid is, maar Mahumapelo se dreigement om “op die gepaste tyd” uit te praat, wys dat hy ’n belangrike getuie kan word oor wie Bozwana vermoor het.

“Supra (Mahumapelo) se oënskynlike onwilligheid om te praat, is ’n wandaad en ons daag hom uit om met niks minder nie as die waarheid na vore te kom,” sê McGluwa.

Supra (Mahumapelo) se oënskynlike onwilligheid om te praat, is ’n wandaad en ons daag hom uit om met niks minder nie as die waarheid na vore te kom.

As ’n voormalige premier en ’n senior lid van die ANC moet Mahumapelo ophou om te sloer en homself beskikbaar stel as hoofgetuie in dié saak.

Die mense van Noordwes het die reg om te weet wat het aanleiding gegee tot Bozwana se dood. Dit is in die openbare belang dat Mahumapelo die waarheid praat.

Cope het ook al gevra dat Mahumapelo in hegtenis geneem word.

Mahumapelo, wat noue bande met oudpres. Jacob Zuma het, het vroeër aan News24 gesê die beweringe teen hom is “totaal opgemaakte leuens” deur sommige mense in die ANC.

“Die beweringe is deel van ’n plan deur sommige ANC-lede om my te vernietig.”

Hy het bygevoeg dat hy ook gerugte gehoor het dat sommige mense in die ANC sê hy verdien om in hegtenis geneem óf doodgemaak te word en dat die berigte wat hom met Bozwana se moord verbind, mense daarop moet voorberei.

Volgens News24 sê Mahumapelo alles is deel van ’n plan om hom stil te maak omdat hy wandade in die ANC uitlig.

Mahumapelo kon nog nie Maandag in die hande gekry word vir kommentaar op die DA se verklaring nie.

Meer oor:  Supra Mahumapelo  |  Wandile Bozwana  |  Huurmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.