Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Supra se skorsing terugslag vir Ace en RET-faksie

Die tydelike skorsing van die “invloedryke” Supra Mahumapelo uit die ANC is ’n erg nadelige verwikkeling vir Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, én sy faksie van radikale ekonomiese transformasie (RET).

So het Theo Venter, politieke ontleder, gesê nadat die ANC se tussentydse provinsiale raad (TPR) in Noordwes Woensdag aangekondig het dat Mahumapelo en verskeie ander ANC-lede weens “swak dissipline” en “die saai van verdeeldheid in die ANC” in Noordwes hangende tugprosesse geskors is.

Mahumapelo is ’n voormalige ANC-voorsitter en premier van Noordwes.

supra
Supra Mahumapelo Foto: Argief

Hy is tans ’n senior ANC-LP en voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor toerisme. Hy is ook ’n stoere politieke bondgenoot van Magashule en ’n nasionale leiersfiguur in die RET-faksie, wat in regstreekse opposisie met pres. Cyril Ramaphosa en sy ondersteuners in die ANC is.

Mahumapelo se skorsing is nóg ’n slag vir dié RET-faksie nadat die ANC vroeër besluit het dat Magashule, saam met alle ander ANC-lede wat in howe op aanklagte van korrupsie en ander ernstige misdade teregstaan, hul poste einde April moet ontruim. Indien nie, sal hulle geskors word.

Magashule staan tans tereg op aanklagte van korrupsie, geldwassery en bedrog wat met die sogenaamde asbesdak-tenderskandaal in die Vrystaat gedurende sy termyn as premier verband hou.

Kenny Morolong, ANC-woordvoerder in Noordwes, wou Woensdag nie navrae oor Mahumapelo en ander ANC-lede se tydelike skorsing beantwoord nie.

Mahumapelo se skorsing kom nadat hy glo onlangs op ’n vergadering in Potchefstroom aan Kgotso Khumalo, burgemeester van die J.B. Marks-munisipaliteit, gesê het om nie sy pos te ontruim nie.

Vroeër is berig dat Khumalo gesê het dat hy nie opsy sal staan nie, ondanks beskuldigings dat hy en ander hooggeplaastes R5 miljoen van die munisipaliteit gesteel het.

Hlomane Chauke, voorsitter van die ANC se TPR, het Woensdag Mahumapelo en ander se tydelike skorsing aan Newzroom Afrika bevestig.

“Ons het ’n aantal ANC-lede na die tugkomitee verwys en hul lidmaatskap is opgeskort. Dit sluit lede van die wetgewer in. Dit is so dat Supra een van diegene is wie se lidmaatskap tydelik opgeskort is.

“Hulle is aangekla en die tugkomitee sal dit verder hanteer. Hulle is geskors weens swak dissipline en die wyse hoe hulle orde in die party verontagsaam en die tipe verdeeldheid wat hulle in die provinsie saai.”

Ons het ’n aantal ANC-lede na die tugkomitee verwys en hul lidmaatskap is opgeskort. Dit sluit lede van die wetgewer in. Dit is so dat Supra een van diegene is wie se lidmaatskap tydelik opgeskort is.

Volgens Chauke gaan die TPR ook aan Magashule se kantoor skryf om Mahumapelo se verdere deelname aan die parlement te “reguleer”.

Vroeër is berig hoe die TPR ook die huidige premier van Noordwes, prof. Job Mokgoro, se ANC-lidmaatskap opgeskort het.

Intussen het Venter ook gesê dat Mahumapelo se skorsing “baie nadelig en negatief” vir die RET-groep is.

“Dit is omdat hy ’n geweldige harde werker en baie aktiewe politikus is. Hy is ook invloedryk in Noordwes. Verder is hy ook charismaties, wat baie belangrik vir ’n politikus is.”

Volgens Venter is daar baie bewerings van korrupsie en bedrog teen Mahumapelo, maar hy is nog van niks aangekla nie. “Hy is daarom een van die min RET-leiers wat tot dusver ‘ongeskonde’ deur staatskaping kom.”

Hy meen Mahumapelo se skorsing kan ook as deel van Ramaphosa se “subtiele en tydsame” skoonmaakveldtog in die ANC beskou word.

Meer oor Supra Mahumapelo

Mahumapelo was as Noordwes-premier in oudpres. Jacob Zuma se termyn saam met Magashule, toe Vrystaatse premier, en adj.pres. David Mabuza, toe premier van Mpumalanga, deel van die magtige sogenaamde premierliga in die ANC wat stoere Zuma-ondersteuners was.

Hy moes in 2018 egter as premier bedank nadat Noordwes vasgevang was in gewelddadige protesoptogte weens swak dienslewering onder sy toesig, met inwoners wat hom ook beskuldig het van grootskaalse beweerde korrupsie én dat hy deel van die Guptas en Zuma se beweerde plundering van staatskoffers was.

’n Interministeriële komitee is kort ná sy vertrek as premier deur die nasionale regering aangestel om Noordwes reg te ruk, waar verskeie provinsiale departemente onder administrasie geplaas moes word en talle munisipaliteite op die rand van ineenstorting was.

Die ANC het kort daarna ook die Mahumapelo-gesinde provinsiale uitvoerende komitee van die ANC daar ontbind.

Mahumapelo was in 2018 in nog ’n skandaal vasgevang nadat dit aan die lig gekom het dat die sukkelende Denel ’n beurs van meer as R1 miljoen aan sy seun toegeken het. Die beurs is later geskrap.



Meer oor:  Supra Mahumapelo  |  Opsystaan  |  Anc-Faksies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.