Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Supra wil Afrikaners se vrees vir onteiening pak

Die vrese van die wit gemeenskap, spesifiek dié van Afrikaners rondom grondonteiening sonder vergoeding, moet aandag kry, meen die ANC-LP Supra Mahumapelo.

Supra Mahumapelo. Foto: Dulile Sowaga

Beter kommunikasie hieroor uit ’n regeringsoogpunt is volgens hom ook noodsaaklik.

Hy het dié uitlatings Donderdag in die parlement gemaak nadat Toerisme Suid-Afrika die debat oor grondonteiening sonder vergoeding as een van vyf sleutelkwessies geïdentifiseer het wat “negatiewe persepsies” veroorsaak en ’n invloed het op internasionale toeriste wat Suid-Afrika wil besoek.

Toerisme Suid-Afrika het sy 2019-’20-jaarverslag aan die portefeuljekomitee oor toerisme voorgelê, en Mahumapelo se uitlatings het tot verskeie vrae aanleiding gegee.

Pebane George Moteka, EFF-LP, wou weet hoe grondonteiening sonder vergoeding toeriste afskrik, en het daarop gewys dat daar nie weggedoen kan word met die gesprekvoering oor die nalatenskap van die verlede nie. Navorsing behoort oor die kwessie gedoen te word.

Mahumapelo, wat die komiteevoorsitter is, het hierop geantwoord dat ’n mens nie beheer het oor persepsies nie, maar dat dit wat ’n mens doen en sê dié persepsies skep.

Volgens hom is daar geen twyfel dat grondonteiening sonder vergoeding gaan plaasvind nie.

Die kwessie is egter hoe Suid-Afrika dit aan die wêreld gaan oordra sodat dit in pas is met wat pres. Cyril Ramaphosa gesê het.

Die president het gesê onteiening sonder vergoeding sal ingevolge die Grondwet hanteer word om die ongeregtighede van die verlede uit te wis, sê Mahumapelo.

“Dit doel is nie om die vordering wat gemaak is om ’n nierassige Suid-Afrika te bou tot niet te maak nie. Dit gaan eerder oor die geleenthede wat dit vir jou as belegger of besoeker aan Suid-Afrika inhou binne die breër raamwerk van onteiening sonder vergoeding.”

Hy het voorgestel dat Toerisme Suid-Afrika met ander staatsdepartemente hieroor gesprekke voer sodat hulle op ’n kommunikasiestrategie daaroor kan besluit.

Dit doel is nie om die vordering wat gemaak is om ’n nierassige Suid-Afrika te bou tot niet te maak nie.

Staatsdepartemente moet die “diepgewortelde vrees” van minderhede – veral die Afrikaners – pak.

“As die kwessie – die vrees vir grondonteiening sonder vergoeding – aandag kan kry, sal dié Afrikaners met ’n inherente vrees hiervoor die boodskap beter kan uitdra omdat hulle duidelikheid daaroor het.

“Hulle sal besef dit is tot voordeel van almal in die land en dat dit nie oor die verdrywing van Afrikaners en diegene wat die grond beheer gaan nie. Hulle sal dit dan duideliker aan ander kommunikeer.

“Dit is ’n groot probleem vir Afrikaners en een van die redes waarom hulle weggaan (die land verlaat),” sê Mahumapelo.

“Ek stel voor dat ons dié monster konfronteer, en dit eens en vir altyd uit die weg ruim.

“Die swart bevolking het nie ’n probleem met grondonteiening sonder vergoeding nie. Dit is die Afrikaners. Kragtens die Grondwet is hulle ook deel van Suid-Afrika, en hulle moet deel bly van die land. Ons kan hulle nie verjaag nie.

“Ons moet dit saam sonder vrees bespreek sodat daar nie teenstrydigheid is nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.