Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Suzman-stigting bekommerd oor aanbeveling vir Opod-pos

Die Helen Suzman-stigting (HSS) het met “kommer” verneem het dat Bheki Cele, minister van polisie, in ’n skrywe aan die Nasionale Vergadering vir Jennifer Dikeledi Ntlatseng as die voorkeurkandidaat vir die pos van hoof van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) aanbeveel het.

Volgens die stigting is die aanbeveling na die portefeuljekomitee oor die polisie verwys vir oorweging en terugvoering.

Francis Antonie van die stigting sê dit is vir hulle belangrik om beswaar te maak oor die aanbeveling. “Ons beswaar is nie teen die aanbeveling van me. Ntlatseng nie, maar teen énige aanbeveling vir die pos terwyl die hofprosesse oor die wettige interpretasie van die ampstermyn en hernuwing van die termyn van die uitvoerende hoof van Opod nog nie afgehandel is nie.”

Antonie sê die portefeuljekomitee, Cele en Opod is respondente in ’n hofsaak rakende die wettige interpretasie van Robert McBride, voormalige Opod-hoof, se ampstermyn en die hernuwing van sy kontrak.

“Totdat daardie hofprosesse nie afgehandel is nie, mag daar geen aanstelling wees nie,” sê Antonie.

McBride se vyfjaarkontrak as Opod-hoof het in Februarie verlede jaar tot einde gekom.

Robert McBride, voormalige Opod-hoof. Foto: Felix Dlangamandla

Die kwessie oor of sy kontrak hernu moes word of nie, is toe na die portefeuljekomitee verwys nadat McBride en Bheki Cele, minister van polisie, vroeër ’n skikkingsooreenkoms – wat as hofbevel bekragtig is – aangegaan het nadat Cele in Januarie 2019 vir McBride gesê het sy kontrak sal nie hernu word nie.

McBride is hof toe omdat hy gemeen het die portefeuljekomitee, en nie Cele nie, moet oor sy lot besluit.

Die Helen Suzman-stigting het daarna formeel ’n aansoek om verlof tot appèl teen die skikkingsbevel tussen McBride en Cele by die appèlhof en konstitusionele hof ingedien.

’n Volbank regters sal die aansoek in Augustus of November in die appèlhof in Bloemfontein aanhoor.

Antonie meen as dit gebeur dat Ntlatseng aangestel word en die HSS se appèl slaag, kan daar dieselfde gesukkel wees soos toe lt.genl. Anwa Dramat, voormalige Valke-hoof, afgedank is.

“Die hof het toe bevind dat Dramat se afdanking onwettig was en dit het toe nog twee jaar geneem voordat Berning Ntlemeza – wat nooit aangestel moes gewees het nie – ook ná ’n lang gesukkel uit sy pos geskop is,” sê Antonie.

“Totdat die hof uitspraak gelewer het, kan die amp van die uitvoerende direkteur nie as vakant beskou word nie, en gevolglik sal enige aanstellings in hierdie kantoor onwettig wees.”

Meer oor:  Jennifer Dikeledi Ntlatseng  |  Opod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.