Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Swak ekonomie raak almal, sê Ramaphosa

Die benarde stand van Suid-Afrika se ekonomie is die grootste probleem wat tans elke Suid-Afrikaner raak, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Ramaphosa het dít Dinsdag op die vooraand van Tito Mboweni, minister van finansies, se begrotingsrede gesê toe hy die hoofspreker was by die amptelike opening van die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers (NHTL) by die parlement.

Khoi- en San-leiers het Dinsdag ook vir die heel eerste keer tot dusver die NHTL-sitting as amptelike lede bygewoon nadat Ramaphosa einde verlede jaar die Wetsontwerp op Tradisionele en Khoisan-leierskap onderteken het, wat voortaan Khoisan-gemeenskappe, -leiers en -strukture statutêr erken.

Ramaphosa het verder aan die land se tradisionele leiers gesê dat almal die gevolge van die swak ekonomie voel. “Of ons nou in die parlement, lid van die NHTL, ’n winkelier, ’n werker of ’n student is, ons voel almal die gevolge.”

Volgens hom is dit veral landelike gebiede wat die ergste geraak word deur ’n ekonomie wat nie groei nie, maar eerder werksverliese het.

“Dít bevorder ernstige maatskaplike probleme soos dwelm- en drankmisbruik en geslagsgeweld.

“Soos ek egter in my staatsrede gesê het, is dit die jaar waarin ons sal fokus op inklusiewe groei en om die bou van ’n bekwame staat te bevorder. Dit beteken dat ons in die eerste plek die basis sal herstel.”

Ramaphosa het gesê inklusiewe groei en ontwikkeling moet daarom na die mense geneem word. “Na waar hulle woon, werk, aanbid en studeer.

“Ons gaan wegbeweeg van die bo-na-onder-benadering tot dienslewering wat vermorsing, duplisering, wanbestuur en korrupsie veroorsaak het.


Daar is nie een van ons wat nie ’n storie het van ’n projek wat óf belowe is of nie gelewer is nie, en as dit gelewer was, was dit van swak gehalte.


Ramaphosa het ook aan teenwoordiges, wat meesal eienaars of voogde van tradisionele grond landwyd is, gesê hul deelname aan die grondhervormingsproses is van noodsaaklike belang.

Hy het ook bekend gemaak dat daar vanjaar ’n presidensiële beraad oor grond gehou sal word nadat tradisionele leiers dit in 2017 versoek het.

“Die NHTL is in gesprek oor dié aangeleentheid met die ministerie van samewerkende regering en tradisionele sake, sowel as die ministerie van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling.

“Dit is belangrik dat elke provinsiale huis van tradisionele leiers, bygestaan deur provinsiale regerings, hul eie gesprekke het om ingelig te wees oor die proses in aanloop tot die beraad.

“Daardie konsultasie moet wyd en verteenwoordigend wees en ek doen ’n beroep op julle om so wyd as moontlik met onder meer nie-regerings-, godsdiens-, jeug- en vroue-organisasies, sowel as met gestremdes en ondernemings daaroor te vergader.”

Volgens Ramaphosa het die raadgewende paneel oor grond en landbou onder voorsitterskap van dr. Vuyokazi Mahlati vroeër ook sy verslag bekend gestel wat onder meer aangedui het dat daar tans nog verskeie tekortkominge in die regering se grondhervormingsbeleid en -programme is.

“Die regering kyk saam met die NHTL na die kwessies wat in die verslag geopper is om die tekortkominge op te los,” het Ramaphosa gesê.

Ramaphosa het tradisionele leiers ook daaraan herinner dat die spertyd vir deelname aan die parlementêre proses om die Grondwet te wysig om die onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak, om die draai is en dat hul deelname daaraan ook noodsaaklik is.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Begroting  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.