Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Swart sakelui moet baat by entstof, sê Cyril

Daar sal geleenthede vir swart ekonomiese bemagtiging wees in die kolossale Covid-19-inentingsveldtog wat in Februarie begin, sê pres. Cyril Rama­phosa.

Die inentingsprojek word as die grootste logistieke operasie in Suid-Afrika se geskiedenis beskryf en gaan miljarde rande kos.

Teen gister nog was die meeste provinsies se planne vir die toedien van 40 miljoen inspuitings teen Desember egter steeds in ’n warboel, te midde van ondernemings deur die regering dat inenting op 3 Februarie begin ná groot vertraging in die verkryging van entstof, waaroor die nasionale regering ’n monopolie verklaar het.

Daar sal egter nie veelvuldige geleenthede vir SEB wees nie, want die regering gaan die sentrale kanaal vir aankope wees.

Die aankondiging oor SEB in die verspreiding van entstof volg nadat honderde miljoene rande se beskermende toerusting vir Covid-19 verlede jaar op korrupte wyse aangekoop is, dikwels by sakelui wat ANC-bande het.

Ramaphosa het Dinsdag ’n virtuele vergadering toegespreek tussen die ANC se topses en die Progressive Business Forum, ’n ANC-geldinsamelingsliggaam wat groot bedrae geld by sakelui vra in ruil vir toegang tot senior ANC-politici.

“Ek stem volkome saam dat ons swart sakelui en ondernemings aan die onplooiing van die entstof moet deelneem,” het Ramaphosa gesê in reaksie op ’n vraag van Kganki Matabane, uitvoerende hoof van die Black Business Council.

Matabane wou by die president weet “of die regering vergeet het van swart ekonomiese bemagtiging”.

Ramaphosa het bygevoeg: “Daar sal egter nie veelvuldige geleenthede vir SEB wees nie, want die regering gaan die sentrale kanaal vir aankope wees. Die verspreiding daarvan is egter die terrein waarop daar geleenthede gaan wees. Dit is ’n terrein waaroor sakeondernemings en sake-organisasies bymekaar moet kom sodat ons kan sien waar die geleenthede is.”

Ramaphosa het daarop gewys dat die adviesraad vir swart ekonomiese bemagtiging, ’n statutêre liggaam wat die regering moet raad gee oor SEB, nog nie hernu is nie.

Die vorige raad se termyn het reeds in 2019 verstryk.

“Ons kan nie vergeet van bestaande wetgewing oor swart ekonomiese bemagtiging in ons inentingsveldtog nie. Jong mense, vroue en maatskappye in swart besit moet sekerlik in gedagte gehou word soos ons wette vereis,” het hy aan Ramaphosa gesê.

Rapport wou agterna van Matabane weet of dit reg is om in ’n pandemiekrisis nog meer regulasies te vereis in die verspreiding van lewensnoodsaaklike entstof.

“Ja, maar ons wil erkende swart ondernemings daaraan laat deelneem. Ons probeer ’n herhaling voorkom van dit wat in die verspreiding van beskermende produkte teen Covid-19 gebeur het – dat maatskappye uit die niet verskyn, vandag gestig word en môre daardie kontrakte kry. Maatskappye wat in die gesondheidsektor werk, moet geregistreer wees by die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Saphra). Ons moet sorg dat maatskappye wat in die proses deelneem, daar geregistreer is.

“Ons het ook wetgewing oor voorkeur-tenderprosedures vir staatskontrakte. Ek weet daar is mense wat nie van die wette hou nie, maar daar is redes daarvoor en ons moet dit toepas,” het Matabane gesê.

“Vir ons is dit belangrik dat ’n nuwe adviesraad aangestel word. SEB spruit uit die Grondwet en die Grondwet is nie deur die pandemie opgeskort nie,” het hy gesê.

Ramaphosa het ook gesê hy moet erken die regering se kommunikasie oor die pandemie is soms nie goed genoeg nie.

“Dit het gelei tot weerstand onder baie mense teen inentings. Ons sal dit moet verander sodat ons almal kan oortuig om die inentings te neem,” het hy gesê.

Indien die regering sy teiken wil haal om teen die einde van die jaar 40 miljoen mense in te ent, sal hy tot 120 000 mense per dag moet inent (lees die volledige berig op bl. 5).

Die nasionale regering het reeds aangekondig hoewel hy die aankope hanteer, sal provinsiale gesondheidsdepartemente vir die inentings verantwoordelik wees.

Die regering het die naweek bevestig hy het al ooreenkomste gesluit met vyf verskaffers wat sowat 34,8 miljoen dosisse entstof na die land sal bring. Dit behoort genoeg te wees om sowat 20 miljoen mense in te ent.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Seb  |  Swart Ekonomiese Bemagtiging  |  Covid-19  |  Entstof  |  Inentings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.