Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Swifambo skuld miljarde

Auswell Mashaba, omstrede baas van die bankrot Swifambo Rail, is in sy persoonlike hoedanigheid gedagvaar in ’n poging om die R2,65 miljard ter herwin wat sy maatskappy aan die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) skuld.

Die likwidateurs van Swifambo Rail voer aan Mashaba het Swifambo ingevolge die Maatskappywet roekeloos bestuur en moet aanspreeklik gehou word vir die honderde miljoene rande wat Swifambo aan Prasa skuld.

Auswell Mashaba, Swifambo Rail Leasing se besturende direkteur.

Die likwidateurs eis dat Mashaba die geld moet terugbetaal wat tussen Swifambo Rail en rekeninge van ander entiteite onder sy beheer gevloei het. Dit sluit ’n bedrag in van R106 miljoen wat Swifambo aan die Mamaroko Makolele-familietrust betaal het, waarvan Mashaba en sy vrou Joyce die enigste trustees is.

Die likwidateurs het in ’n ondersoek oor die vloei van die geld gevind Prasa het tussen 2013 en 2015 R2,6 miljard aan Swifambo en Railpro (ook Mashaba se maatskappy) betaal. Swifambo het ’n kontrak van R3,5 miljard gehad om lokomotiewe aan hom te voorsien. Die hooggeregshof in Pretoria het in 2018 bevind die tender is op korrupte wyse verkry en het die kontrak toe tersyde gestel.

Swifambo, Railpro en AM Consulting Engineers, wat ook aan Mashaba behoort, het R185 miljoen aan Mashaba en entiteite onder sy beheer oorbetaal. Swifambo en Railpro het ’n verdere R81 miljoen aan Makhensa Mabunda en entiteite onder sy beheer oorbetaal. Mabunda was eens ’n staatsamptenaar en is ’n oudkollega van Lucky Montana, voormalige uitvoerende hoof van Prasa.

Die likwidateurs ondersoek verdagte betalings van R20 miljoen aan verskeie beleggingsfondse en familietrusts. Hulle ondersoek ook die aankope van spogmotors ter waarde van R1,8 miljoen, opknappingswerk vir R471 000 aan Mashaba se huis in Clifton en eiendom wat Mashaba ter waarde van R50 miljoen aangekoop het.

Die likwidateurs het reeds daarin geslaag om agt van die Afro 4000-lokomotiewe vir R95 miljoen te verkoop nadat die hooggeregshof in Pretoria ’n dringende hofaansoek van Mashaba om dit te keer, van die hand gewys het.

Mashaba het aangevoer die likwidateurs het nie die reg om die lokomotiewe te verkoop nie omdat dit nie aan Swifambo behoort het nie. Luidens die verslag probeer Mashaba nou keer dat die wins uit die verkoop van die lokomotiewe aan Prasa oorbetaal word.

Meer oor:  Prasa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.