Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA-drama: Moodey voer glo 'seks-komplot' teen Waters
John Moodey, die DA se voormalige leier in Gauteng. Foto: Argief

John Moodey, Gautengse hoof van die DA wat die week bedank het, was glo betrokke by ’n komplot teen Mike Waters, DA-LP, en wou hom deur bewerings van seks vir werk inkrimineer.

John Steenhuisen, tussentydse leier van die DA, het Donderdag op ’n virtuele mediakonferensie gesê Moodey word daarvan beskuldig dat hy ’n senior kollega vals beskuldig het dat die kollega werk in ruil vir seks aangebied het. Steenhuisen het nie name genoem nie, maar Waters het later 'n verklaring uitgereik waarin hy homself as die senior kollega identifiseer. 

Moodey word ook daarvan beskuldig dat hy twee jong raadslede in Gauteng met bevordering wou omkoop as hulle teen Waters sou getuig.

Waters (53), is 'n deurwinterde senior DA-LP, wat in 'n stadium die adjunk-hoofsweep van die party was. Hy is tans een van twee voorsitters van die DA se federale uitvoerende komitee.

Hy was een van die kandidate wat verlede jaar sy naam in die hoed gegooi het vir die senior pos van voorsitter van die federale uitvoerende raad. Helen Zille, voormalige DA-leier – wat haar naam in die hoed gegooi het kort voordat die benoemings gesluit het – is uiteindelik tot die pos verkies.

Mike Waters, LP en hoof van die DA se kiesafdeling. Foto: Deaan Vivier

Moodey ontken aantygings

Moodey het die aantygings ten sterkste ontken en sê hy het nie probeer om enigiemand te inkrimineer nie.

“’n Derde party het my ingelig oor twee raadslede wat aantygings maak dat hulle seks vir hul poste as raadslede moes ruil. Ek het gesê tensy die individue bereid is om amptelike verklarings te doen, kan ek nie daarop reageer nie.

“Ek het nooit enige bewysstukke vervals of iemand genader om valse getuienis teen ’n ander te bring nie. Op aanvraag van die raadslede het ek hom (Waters) gebel, maar ek het niks onwettig gedoen nie,” het Moodey aan Netwerk24 gesê.

Die DA se aantygings volg nadat Moodey, wat in Oktober saam met Steenhuisen en Mbali Ntuli, ’n lid van die KwaZulu-Natalse provinsiale wetgewer, om die pos van partyleier van die DA sou meeding, Woensdag sy bedanking uit die party aangekondig het.

Moodey het gesê hy het uit die party bedank omdat sy beginsels nie meer versoenbaar is met die rigting wat die DA inslaan nie, berig Sarel van der Walt.

Moodey het later uitlatings van rassisme teenoor die party gemaak en gesê daar is ’n heksejag in die party aan die gang as deel van ’n poging om ontslae te raak van mense soos hy wat “nie inpas in dié DA wat hom as ’n middel tot ’n regsgesinde liberale party beskou nie”.

Steenhuisen het Donderdag gesê Moodey het al die uitlatings gemaak om die aandag van homself af te trek.

“Hy het dit gedoen deur sy kollegas sleg te sê, die rassekaart te speel en wou die party soveel skade moontlik berokken deur onwaarhede te versprei toe hy by die deur uitstap.”

Steenhuisen sê verder dat die DA se federale regskommissie in besit is van opnames van die telefoongesprekke wat Moodey met die twee fluitjieblasers gehad het, nadat hulle hom verkla het.

Steenhuisen sê dit was vir hom ’n jammerte om die DA se interne prosesse te moet openbaar, maar hy kan nie toelaat dat Moodey die party beswadder nie.

Werner Horn, ’n lid van die DA se federale regskommissie wat dissiplinêre prosedures behartig, sê Moodey sou van wangedrag aangekla word, “maar hy het die kennisgewing nog nie ontvang nie”.

“Ons het aanhou probeer om ’n tyd met hom te reël om amptelik kennis oor die klagte te gee, maar hy het aanhoudend uitgestel.”

Waters het in sy verklaring gesê omdat Moodey nou bedank het, kan hy nie meer op die DA se interne prosesse staatmaak om sy naam in ere te herstel nie.

Hy het dit gedoen deur sy kollegas sleg te sê, die rassekaart te speel en wou die party soveel skade moontlik berokken
Mike Waters

Hy sê ook in sy verklaring die federale regskommissie het reeds die voorval ondersoek, “en hangende ’n verhoor het die komitee Moodey se skorsing voorgestel”.

Waters skryf hy is ’n openlike gay man en dat Moodey “twee jong, kwesbare gay mans tydens sy homofobiese tog geteiken het”.

“Hy het nie daarop staatgemaak dat die twee sou terugbaklei nie.”

Nog leiers in die DA word ook by die seksaantygings betrek, maar nie Steenhuisen of Moodey wou uitwei oor wie dit is en wat hul rol was nie.

Intussen sê Moodey hy hou by sy stelling dat hy geen respek het vir Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, nie.

Zille het aan Netwerk24 gesê Moodey is suur omdat sy haar werk gedoen het.

“Ek is glad nie betrokke by die dissiplinêre proses nie. Sake soos dié beland elke dag op my tafel en dit is my werk om met die hulp van ’n regsadviseur, te besluit watter sake word na die federale regskommissie verwys.

“Die saak teen hom het beëdigde verklarings en stemopnames gehad en enige objektiewe persoon sou dit verwys het.”

Oor Moodey se stelling sê sy. “Dis water op die eend se rug. As ’n mens eers na die stemopnames geluister het, kan jy nie ag slaan op so iemand se opinie nie.”

Meer oor:  Werner Horn  |  John Steenhuisen  |  Mike Waters  |  John Moodey  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.