Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Talle in polisie vir misdade ondersoek

Verskeie beamptes van die polisie se eenheid wat baie belangrike persone (BBP-beskermingsdienste), soos pres. Cyril Ramaphosa en kabinetsministers moet beskerm, word self strafregtelik aangekla weens ernstige misdade soos moord, seksuele oortredings en die onwettige rig van ’n vuurwapen.

So het Bheki Cele, minister van polisie, in ’n parlementêre antwoord wat Maandag uitgereik is, bekend gemaak nadat Andrew Whitfield, ’n DA-LP, by hom wou weet hoeveel lede van die BBP-beskermingsdienste deur strafregtelike, siviele en interne tugklagte in die gesig gestaar word.

Cele het in ’n afsonderlike antwoord ook onthul dat misdaadsake weens geslagsgeweld-verwante klagte ook teen 139 ander polisiebeamptes landwyd in die 2019-’20-boekjaar aangemeld is.

Bheki Cele Foto: SON

Volgens Cele word 14 lede van die BBP-beskermingsdienste nou weens strafregtelike klagte ondersoek.

Die klagte wissel van moord, seksuele aanranding, aanranding, dronkbestuur, rig van ’n vuurwapen, nalatige verlies van ’n vuurwapen, tot die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie, steel van staatsvuurwapens, regsverydeling, intimidasie en die verbreking van die inperkingsregulasies.

Al die sake is nog hangend.

Volgens Cele word nog ses lede van die BBP-beskermingsdienste weens soortgelyke klagte ook intern aangekla.

Luidens die polisie se 2018-’19-jaarverslag het die BBP-beskermingsdienste in dié periode beskermingsdienste aan 84 nasionale en 130 provinsiale afgevaardigdes, sowel as 12 ad hoc- en 43 buitelandse afgevaardigdes wat Suid-Afrika besoek het, verleen.

Michéle Clarke, nog ’n DA-LP, wou ook by Cele weet hoeveel polisiebeamptes deur strafregtelike klagte weens geslagsgeweld in die gesig gestaar word.

Volgens Cele is in die 2019-’20-boekjaar sake teen 139 polisiebeamptes aangemeld.

Die meeste hiervan is in die Wes-Kaap met 26 gevalle, KwaZulu-Natal (20), Vrystaat (20) en die Noord-Kaap met 14 gevalle.

Volgens Cele wissel die sake teen die aangeklaagdes van moord, poging tot moord, verkragting, seksuele aanranding, statutêre verkragting, poging tot verkragting, opsetlike saakbeskadiging, die rig van ’n vuurwapen, aanranding en diefstal.

Intussen het Richard Mamabolo, woordvoerder van Popcru, die grootste vakbond in die polisie, in reaksie gesê Cele se antwoorde toon dat die polisie se agtergrondtoetse vir nuwe rekrute verskerp moet word om te verseker dat net mense met integriteit hulle by die polisiediens aansluit.

Volgens Mamabolo ondersteun Popcru in beginsel daarom voorstelle in die wysigingswetsontwerp oor die Suid-Afrikaanse Polisiediens dat nuwe polisierekrute se agtergrond eers deeglik nagegaan moet word voordat hulle aangestel word. Die wetsontwerp is nou vir openbare kommentaar beskikbaar.

“Die inhegtenisneming van en ondersoeke teen vermeende oortreders wys dat die polisiebestuur ontslae wil raak van verkeerde elemente in die polisie. Dit sal help om die publiek se vertroue in die polisie te herbou,” het Mamabolo gesê.

Dr. Guy Lamb, politieke ontleder aan die Universiteit Stellenbosch, meen die onlangse vlaag inhegtenisnemings van top-polisiegeneraals wys dat die regering korrupsie wil vasvat wat die topstrukture van die polisie sedert 2008 teister. “Hulle wil ook ’n duidelike boodskap uitstuur dat daadwerklik teen oortreders opgetree word.”

Oor die talle gewone polisiebeamptes wat ook nou strafregtelik vervolg word, het Lamb gesê dat die polisie tot dusver nie nuwe rekrute se agtergrond deeglik ondersoek het voordat hulle aangestel is nie.

Volgens hom is bogenoemde wysigingswetsontwerp egter ’n poging om dit uit te sorteer.

Lamb meen die klagte teen bogenoemde polisiebeamptes is ook deel van die regering se pogings om openbare vertroue te herwin en om die legitimiteit van die polisie te herbou.

Meer oor:  Polisie  |  Cyril Ramaphosa  |  Bheki Cele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.