Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Talle van Zuma se ondersteuners buite hof verwag

Hoogspanning word Dinsdag by die hooggeregshof in Pietermaritzburg verwag wanneer oudpres. Jacob Zuma die eerste keer sedert sy inhegtenisneming op 7 Julie in die openbaar sal verskyn.

Dit kom nadat die hooggeregshof Woensdagoggend ’n aansoek deur sy regspan toegestaan het dat hy self vir sy korrupsieverhoor in die hof wil wees.

Slegs minute ná die uitspraak het sy ondersteuners aangedui dat hulle in Pietermaritzburg sal wees om hom te ondersteun.

Thulani Gamede, ’n Zuma-bondgenoot en woordvoerder van die burgerregtegroep Sanco, het Woensdag aan Netwerk24 gesê dit is nie eens nodig om mense te mobiliseer nie, “want hulle sou in elk geval na Pietermaritzburg gaan om uMsholozi (Zuma) te ondersteun”.

Oudpres. Jacob Zuma met ’n vorige hofverskyning in Pietermaritzburg. Foto’s: Deaan Vivier en Sandile Ndlovu

Duduzile Zuma-Sambudla, Zuma se dogter, het Woensdag opnuut gevra dat mense by die hooggeregshof moet saamtrek ter ondersteuning van haar pa.

“Dit is ’n revolusionêre datum, 10 Augustus. Amandla,” het sy op Twitter geskryf. Sy het ook ’n foto geplaas van ’n plakkaat waarin gevra word dat mense by die hof moet saamkom.

Bheki Cele, minister van polisie, het Dinsdag op ’n mediakonferensie in Inanda gesê die polisie is gereed vir enige gebeurlikhede tydens die hofsaak.

Hy wou nie uitwei oor wat presies die polisie se plan is om geweld en onluste te voorkom nie.

Kol. Brenda Muridili, provinsiale woordvoerder, wou ook nie Woensdag meer daaroor sê nie, en het slegs aan Netwerk24 gesê dat die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (NatJoints) reg en orde sal handhaaf.

Die weermag wou ook nie Woensdag sê of soldate by die hof sal wees nie.

Carl Niehaus, woordvoerder van die Umkhonto we Sizwe-militêre-veterane-vereniging (MKMVA), sê in ’n verklaring dat optogte wat deel is van die #FreeJacobZuma-veldtog, Dinsdag in Pietermaritzburg “vreedsaam en volgens wet” sal geskied.

Prof. Theo Neethling, politieke en militêre kenner verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat, sê dit is belangrik dat die veiligheidsmagte moet verhoed dat geweld en onluste uitbreek.

“KwaZulu-Natal is op breekpunt. Die provinsie kan dit nie bekostig nie,” sê hy.

Neethling sê daar sal beslis politieke opportuniste by die hof wees. “Dit kan ook nie gebeur nie. Die ANC in KwaZulu-Natal is reeds diep verdeeld en dit kan dinge net nog meer laat versleg. Die verdeeldheid kan tot onstabiliteit lei. Ons soek nie olie op die vuur nie, maar eerder water om dit te blus.

“Mense moet ook weens die koronaviruspandemie samekomste vermy en wegbly van die hof,” sê Neethling.

Hy sê Zuma sal nie sy ondersteuners buite die hof kan toespreek nie. “Omdat hy ’n gevangene is, mag hy geen politieke aktiwiteite uitvoer nie,” sê Neethling.

Dr. Guy Lamb, ’n polisiekenner verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US), sê die polisie sal beslis hierdie keer op geweld en onluste voorbereid wees.

“Die polisie is nou bewus van die bedreiging en kan hulself voorberei. Hulle sal ook spesifiek fokus op Pietermaritzburg, want daar is geen twyfel dat ondersteuners van Zuma daar (by die hof) sal opdaag nie. Dat die polisie nou beter voorbereid is, beteken egter nie dat die risiko vir geweld minder is nie,” het Lamb by navraag gesê.

Hy sê die polisie sal inteendeel oor KwaZulu-Natal heen op ’n hoë gereedheidsgrondslag wees.

Zuma moet Dinsdag weer in die hof verskyn vir sy beweerde aandeel in die wapenskandaal.

Mense wie se sake aanlyn aangehoor word, het eenvoudig nie dieselfde voordele as diegene wat in die hof verskyn nie.
Dr. Llewellyn Curlewis

Dit kom nadat regter Piet Koen op 20 Julie beslis het die saak word tot 10 Augustus uitgestel nadat Zuma se twee regsverteenwoordigers, adv. Dali Mpofu SC en Thabani Masuku SC, ’n aansoek daarvoor ingedien het. Hulle wou hê dat Zuma self in die hof moet verskyn.

Dié deel van die hofsaak is nie deel van die verhoor nie, maar handel oor ’n aansoek deur Zuma dat adv. Billy Downer SC hom as staatsaanklaer aan die saak moet onttrek. Die saak is van 10 tot 13 Augustus vir drie dae op die hofrol geplaas.

Dr. Llewelyn Curlewis, strafregkenner, het Woensdag by navraag gesê die Grondwet vereis dat ’n persoon in die hof teenwoordig moet wees wanneer hy of sy van iets beskuldig word. “Dit is slegs in uiterste gevalle dat beskuldigdes nie in die hof hoef te wees nie. Dit is die hof se plig om sover moontlik seker te maak dat die beskuldigde in die teenwoordigheid is van dié wat hom beskuldig,” sê Curlewis.

Hy sê dit is tot voordeel van Zuma se saak dat hy self in die hof is. “Dit is hoe dit moet wees. Mense wie se sake aanlyn aangehoor word, het eenvoudig nie dieselfde voordele as diegene wat in die hof verskyn nie,” sê hy.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Pietermaritzburg  |  Ondersteuners  |  Spanning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.