Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Taxiroetes toe: Polisie, weermag staan reg

Wetstoepassers staan reg vir taxiverwante geweld nadat ’n minibustaxi-roete tussen die Paarl en Bellville, asook talle staanplekke in die metropool van Maandag af vir twee maande gesluit is.

MEC

Daylin Mitchell, LUR vir vervoer in die Wes-Kaap, het by een van die verkeersbestuursentrums saam met personeel die kringtelevisiekamers op die B97-roete tussen die Paarl en Bellville op monitors dopgehou.

mec2

Die openbare vervoerstelsel in Kaapstad word reeds weke lank erg ontwrig deur ’n mini-oorlog tussen twee taxiverenigings, wat op 5 Julie weer opgevlam en sedertdien talle lewens geëis het. Aanvalle op desperate pendelaars wat van alternatiewe vervoer gebruik maak, is in hierdie tyd aangemeld.

Daar was teen 07:30 geen sulke voorvalle of ander taxigeweld nie, het Mitchell Maandag gesê.

Intussen patrolleer polisielede taxistaanplekke, hoofweë en ander hoofroetes, sê brig. Novela Potelwa, provinsiale polisiewoordvoerder.

Sy sê die provinsiale gesamentlike operasionele en intelligensiestrukture (ProvJoints) het al verskeie kere vergader om te verseker dat wetstoepassers vinnig kan reageer.

“Addisionele personeel staan reg om ontplooi te word sodra geweld uitbreek. Weermaglede word steeds in hoërisikogebiede ontplooi.”

Potelwa het in ’n verklaring wat Sondag uitgereik is, gesê die intelligensiedienste is reeds geruime tyd betrokke om die bedreiging te help hanteer.

“Ons waarsku diegene wat vervoerdienste verder wil ontwrig om van hul planne af te sien, aangesien die geïntegreerde magte nie sal huiwer om daadwerklik op te tree nie.”

Weermaglede en die Suid-Afrikaanse Polisiediens verlede week op patrollie in Khayelitsha. Foto: Gallo Images

Die Golden Arrow-busdiens het busse beskikbaar gestel op die roete tussen die Paarl en Bellville en pendelaars kan volgens Mitchell ook van Metrorail-treindienste gebruik maak.

GOLDEN ARROW

Mense wat gedreig of aangeval word, word deur die polisie gevra om dit dadelik aan te meld deur die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 of die Kaapstadse metro se noodnommer by 021 488 7700 te skakel.

Onderhandelings tussen die betrokke taxiverenigings, Cata en Codeta, waarby provinsiale en nasionale owerhede en bemiddelaars betrokke is, sal na verwagting hierdie week voortgaan.

Meer oor:  Daylin Mitchell  |  Lur  |  Taxigeweld  |  Taxistaking  |  Weermag  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.