Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Te min geld om VS se ‘slaggat-valleie’ reg te maak – DA

Te min geld is bewillig vir die Vrystaat se “slaggat-valleie” en die aangewese optrede sal wees dat geld van ander Vrystaatse departemente na die departement van polisie, paaie en vervoer vir die padherstelwerk gekanaliseer word.

So het Karabo Khakhau, DA-wetgewerlid, op die begrotingsdebat van dié departement in Welkom gesê.

Karabo Khakhau Foto: Argiewe

Sy het gesê die begroting vir padinfrastruktuur is in die 2018-’19-boekjaar met R15 miljoen verhoog. Die totaal hiervoor was R1,8 miljard in die 2019-’20-boekjaar en die geskatte mediumtermynbegroting vir 2020-’21 is R1,864 miljard.

Sy meen egter dat die departement swak befonds word en dat hy boonop nie oor die kundigheid beskik om te verseker dat die geld wat wel beskikbaar is, op die beste manier gebruik word nie.

“Doen weg met manipulerende en gekonnekteerde kontrakteurs wie se werk nie op standaard is nie en kyk waar die beste waarde vir geld gekry kan word.”

Khakhau sê volgens die departement se mediumtermynbegroting (vir die volgende drie jaar) is daar R5,2 miljard begroot wat net aan Vrystaatse paaie en vir die betaling van subsidies vir openbare vervoer bestee kan word.

“Laat ons die maksimum met die begroting doen om waarde vir geld te verseker om die enorme agterstand met die instandhouding van paaie in te haal.”

Sy sê dit is onaanvaarbaar dat daar van boere verwag word om hul eie geld te gebruik om van die paaie reg te maak, omdat dit die provinsiale regering se verantwoordelikheid is en omdat almal hiervoor belasting betaal.

Dévar Smit Foto: Argiewe

“Ons landelike gebiede word ook beroof van nooddienste omdat voertuie wat sulke dienste lewer, dikwels nie in staat is om dit te doen nie weens die toestand van die paaie.

“Alle paaie oor elke distrik van die provinsie heen is basies valleie van slaggate.”

• Dévar Smit, Vrystaatse wetgewerlid van die VF Plus, het gesê: “ ’n Mens hoef nie ver te ry om te sien in watter swak toestand die Vrystaatse paaie is nie, en sal boonop in die proses ’n band of twee afskryf”.

Hy het ook gesê die premier, Sisi Ntombela, het in haar provinsiale rede ’n lys van paaie gegee wat in die boekjaar herstel of oorgebou gaan word, maar dit blyk om maar jaar ná jaar dieselfde lys te wees.

Smit het verwys na die onderwyser Waldo Ferreira wat op die pad tussen Warden en Vrede weens ’n slaggat verongeluk het, en nog baie ander ongelukke in die Vrystaat, en gesê “die ANC beroof mense van hul lewe omdat hy nie die paaie regmaak nie”.

Meer oor:  Karabo Khakhau  |  Vrystaat  |  Geld  |  Begrotingsdebat  |  Slaggat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.