Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Te vroeg om te sê Cyril is klaar, meen FW-stigting

Pres. Cyril Ramaphosa se uiteindelike magsposisie in die ANC sal in sy komende staatsrede duidelik word, meen die FW de Klerk-stigting.

Só meen dr. Theuns Eloff, voorsitter van dié stigting se raad van adviseurs. Eloff het gereageer op kommer weens onlangse gebeure soos die Eskom-krisis, oproepe dat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, afgedank moet word, die debat oor die onafhanklikheid van die Reserwebank en die ANC se 8 Januarie-verklaring.

Eloff meen dit is ten spyte daarvan steeds te vroeg om Ramaphosa se ondergang te voorspel.

Die president lewer op 13 Februarie sy staatsrede in die parlement.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Daily Sun

“Eers wanneer pres. Ramaphosa sy staatsrede lewer, sal ons ’n blik kan kry van die president van die land en van alle Suid-Afrikaners. Dit sal dus belangrik wees om na elke nuanse in die staatsrede-toespraak te kyk om die magsposisie van Ramaphosa akkuraat te bepaal.”

Eloff het verder in ’n verklaring gesê wat kommerwekkend is, is die voortdurende gerugte dat die president nie meer kan staatmaak op die steun van adj.pres. David Mabuza of Paul Mashatile, tesourier-generaal, in die topses-leierskap van die ANC nie.

Dit terwyl Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, ook soos bogenoemde twee ambisies het om in 2022 ANC-president te word.

Eloff meen die magsdinamika in die ANC is daarom meer verwikkeld as net ’n Ramaphosa- en Magashule-faksie, en is dit ’n voorbeeld van die diep persoonlike en beleidsverskille onder die ANC se topleiers.

Volgens Eloff kan adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, se beloftes dat daar ’n paar hoëprofiel-vervolgings in Februarie mag wees, egter die Ramaphosa-kamp versterk én die magsdinamika in die ANC vinnig verander.

Adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging.

As André de Ruyter, Eskom se nuwe hoof, ’n sigbare impak op Eskom se elektrisiteitsverskaffing maak, sal dit ook positief vir Ramaphosa wees, hoewel die aanstelling van prof. Malegapuru Makgoba as Eskom se tussentydse voorsitter, reeds kritiek ontlok het.

“Suid-Afrika het ’n president wat baklei om sy politieke basis te versterk wat swak begin het. Dit is en word moeiliker gemaak deur die terugvegpogings van die Zuptas en ander korruptes, die agteruitgang van die staat en staatsentiteite en die stadigste ekonomiese groei sedert die Tweede Wêreldoorlog.”

André de Ruyter Foto: Verskaf

Eloff sê Ramaphosa se probleem is dat hy en sy breë magsbasis ook verskil oor sekere fundamentele beleidskwessies, veral oor die ekonomie.

As die erge korrupsie en verrotting in ANC-strukture ook in ag geneem word, is Ramaphosa volgens Eloff net soos oudpres. Thabo Mbeki destyds, betrokke by ’n stryd oor die siel van die ANC. “Dit is nie ’n maklike geveg nie.”

Hy meen dat Ramaphosa sterker en vinniger kon optree en sy magsbasis vroeër versterk het, maar dat dit te vroeg is om die huidige gebeure as die begin van sy einde te beskou.

“Daarvoor is hy te veel van ’n strateeg. Maar om arms te vou en niks te doen nie, is ook nie ’n keuse nie. Dan is dit alles oor vir hom en vir Suid-Afrika,” sê Eloff.

Meer oor:  Shamila Batohi  |  André De Ruyter  |  Theuns Eloff  |  Eskom  |  Staatsrede  |  Cyril  |  Fw-Stigting  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.