Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
'Te wit' firmas beboet

Die land se regstellende­aksie-wetgewing is die ­afgelope jaar meedoënloos begin afdwing deurdat die departement van arbeid 44 werkgewers, waaronder genoteerde maatskappye en selfs die DA-beheerde Tshwane-metro, voor die hof gedaag het.

Pres. Cyril Ramaphosa Donderdag in die parlement oor Eskom: “Vir my is dit nie wit vaardighede nie – dis bloot vaardighede.”

Hulle word strafregtelik aangekla van oortredings van die regstellendeaksie-bepalings in die Wet op Billike Indiensneming.

Geen van die maatskappye is al skuldig bevind nie, maar vyf van hulle het afkoopboetes betaal.

Die 39 oorblywende maatskappye, wat die aanklagte in die arbeidshof betwis, word nou deur ’n boete van R1,5 miljoen elk in die gesig gestaar.

Onder hulle is Sibanye Gold, die land se grootste goudprodusent; die wapenvervaardiger Denel; die staalmaatskappy Scaw Metals; en Zululand Anthracite, die land enigste antrasietmyn.

Naas die Tshwane-metro is nog drie kleiner munisipaliteite – Ntabankulu aan die Wildekus, Nyandeni oos van Mthatha en die Ngaka Modiri Molema-munisipaliteit (Mahikeng) – op die lys van beweerde oortreders.

Spanjaard, ’n verspreider van spesialis-smeermiddels, en ’n staatmaker-aandeel vir beleggers op die JSE, is ook aangekla, maar is een van dié maatskappye wat ’n afkoopboete betaal het.

Die Suid-Afrikaanse filiaal van Uni­lever is ook daarvan aangekla dat hy geen plan ingedien het nie, maar dié saak is buite die hof geskik, volgens ’n lys van die vervolgings wat die departement van arbeid aan Rapport beskikbaar gestel het.

Wysigings het die wet ‘tande’ gegee.

Dit is die eerste vervolging weens oortredings van die land se regstellendeaksie-wet, die Wet op Billike Indiensneming, sedert 2008, toe die departement misluk het in sy poging om Comair, die land se grootste private lugdiens, op soortgelyke aanklagte voor die hof te daag.

Die hof het toe bevind dat die departement sy magte oorskry het, en het ­Comair vrygespreek. ’n Kleinerige klerevervaardiger in Noord-Natal is destyds ook aangekla, en het ’n afkoopboete betaal.

Die destydse minister van arbeid, Membathisi Mdladlana, het daarna ’n hersieningsproses van die wet aan die gang gesit om die wet meer “tande” te gee.

Die wysigings het eers in 2016 van krag geword.

Nou het die direkteur-generaal van arbeid, Thobile Lamati, uitgebreide magte om die regstellendeaksie-planne van werkgewers te hersien en nuwe maatreëls voor te skryf “sodat die regstellendeaksie-plan aan die wet voldoen”. Dit word in artikel 43 van die wet uiteengesit.

Die wet vereis dat die rasse- en geslagsamestelling van ’n werkgewer se arbeidsmag ten volle verteenwoordigend van die land se ekonomies aktiewe bevolking moet wees.

In Augustus 2017 het die departement aangekondig hy het die regstellendeaksie-planne van 72 maatskappye wat op die JSE genoteer is, begin hersien.

Die hersienings het in Julie 2017 begin en tot Desember 2017 geduur. Die jongste vervolgings spruit uit van dié hersienings.

“Van die 44 beskuldigdes in die sake is 22 werkgewers wat nie aan die direkteur-generaal se aanbevelings voldoen het nie. Hulle kry 60 dae tyd om die aanbevelings toe te pas. Indien hulle dit nie doen nie, word hulle aangekla. Ons vra die hof in elke aanklag om die maksimum boete van R1,5 miljoen vir ’n eerste oortreding op te lê,” het adv. Fikiswa Mncanca, regsadviseur van die departement, aan Rapport gesê.

Die 22 beskuldigdes wat na bewering nie die aanbevelings toegepas het nie, dien tans dokumente ter verdediging by die hof in om die sake teen hulle te betwis.

Die wet verplig alle werkgewers in artikel 20 om ’n billike-indiens­nemingsplan of regstellendeaksie-plan, wat die rasprofiel van die werkmag in elke poskategorie uiteensit, by die departement in te dien.

Die plan moet regstellendeaksie-maatreëls bevat wat daarop gemik is om die arbeidsmag in ’n werkplek só te transformeer dat dit binne vyf jaar verteenwoordigend van die land se ekonomies aktiewe bevolking is.

’n Werkgewer moet daarna ook elke jaar in Oktober oor sy vordering met die regstellendeaksieplan verslag doen. Kleiner werkgewers, met minder as 150 werknemers, moet elke tweede jaar ’n verslag indien. Dit word in artikel 21 van die wet vereis.

Nog 16 werkgewers, waaronder die Tshwane-metro en Denel, het volgens Mncanca geen regstellendeaksie-plan ingedien nie.

“As jy geen plan ingedien het nie, beteken dit dat jy geen bedoeling het om jou werkplek te transformeer nie. In sulke gevalle praat ons nie met die werkgewer nie – ons daag hulle sonder enige verdere kommunikasie voor die hof. Werkgewers wat nie hul jaarlikse of tweejaarlikse vordering rapporteer nie, word ook sonder verdere kommunikasie aangekla,” sê sy.

Vuyelwa Qinga, korporatiewe bestuurder van Denel, het by navraag bevestig die wapenvervaardiger is aangekla, maar het gesê dis bloot ’n fout omdat Denel se regstellendeaksie-plan nie betyds ingedien is nie.

“Ons demografiese profiel voldoen ten volle aan die wet. Ons is 60% swart. Wat geslag betref, is 35% van ons werknemers vroue. Dis nie volmaak nie, maar ons het al ver gevorder,” sê sy.

Die departement bereken 77,4% van die land se ekonomies aktiewe bevolking is swart.

Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tswane-metro, het ook die aanklagte teen die raad bevestig.

“Ons gaan egter beslis die saak betwis en is besig om beëdigde verklarings daarvoor op te stel,” sê hy.

Die ander beskuldigdes op dié lys is minder bekende maatskappye. Dit sluit in die mynkontrakteur Rustenburg Steel Construction en LMI Mining Resources, klein vervaardigingsmaatskappye, waaronder Academy Brushware en Corruseal Packaging, verskeie maatskappye in die toerismebedryf, waaronder die Twaalf Apostels-hotel naby Kampsbaai in Kaapstad, die Port Edward-vakansie-oord, twee wildplase en die Limpopo-padagentskap. Die nuus oor dié verskerpte veldtog om regstellende aksie af te dwing, volg 20 jaar nadat die Wet op Gelyke Indiensneming in 1998 van krag geword het.

Die aanvanklike oogmerk met die wet was om ’n stelsel van vrywillige, realistiese teikens te skep wat werkgewers self kon bepaal. Dit het nou verander in ’n onverbiddelike klem daarop dat werkplekke die ekonomies aktiewe bevolking van die land moet weerspieël.

Dit het onder meer uitgeloop op Eskom se regstellende aksieplan waarvolgens die elektrisiteitsverskaffer sy getalle wit ingenieurs en tegnici moes verminder. Die departement het dié planne hersien, maar dit is onlangs uitgestel op versoek van Eskom se uitvoerende hoof, Phakamani Hadebe, hangende die voorgenome ontbondeling van Eskom.

Terselfdertyd het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, begin om vaardige werkers wat Eskom verlaat het, terug te lok.

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag in vraetyd in die parlement gesê hy is nie bewus daarvan dat Eskom se regstellende aksieplan opgeskort is nie.  

“Ek steun Eskom se plan om vaardighede terug te bring wat Eskom verlaat het, maar vir my is dit nie wit vaardighede nie – dis bloot vaardighede.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.