Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Tender-korrupsie: Wetgewing is nodig, hoor komitee

Bykomende wetgewing is nodig om te verhoed dat tenders toegestaan word aan vriende en familielede van politici en staatsamptenare.

So het die spesiale ondersoekeenheid (SOE), die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die Valke Dinsdag aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gesê op ’n virtuele sessie oor die vordering met Covid-19-verwante korrupsie-sake.

Dit kom ná groot openbare misnoeë nadat dit bekend geword het dat senior ANC-leiers en hul families voordeel getrek het uit honderdmiljoene rande se tenders om veral persoonlike beskermende toerusting tydens die piek van die koronaviruspandemie aan die regering te verskaf.

Mkhuleko Hlengwa, Skoor-voorsitter wat die virtuele sessie gelei het, sê die oorlog teen korrupsie is duidelik lank nog nie verby nie “omdat die mense wat die gesteelde geld moet ondersoek, nog geld nodig het om die ondersoeke te kan doen”.

Die Valke het reeds 174 sake in verband met die wanbesteding van Covid-19-geld geïdentifiseer, waarvan 51 ondersoek en ses reeds voor die hof was.

Die wetstoepassers het ook hul kommer uitgespreek oor finansiering.

Adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, sê indien hul begroting gesny word, sal hulle nie suksesvol kan voortgaan met hul ondersoeke en vervolgings nie.

Die SOE sê R15,6 miljard se Covid-19-geld is van April tot Augustus vanjaar bestee. Hy ondersoek R10,5 miljard, oftewel 67% hiervan, vir moontlike wanbesteding en/of korrupsie.

Adv. Andy Mothibi, hoof van die SOE, sê R223 miljoen van die R10,5 miljard se sake is voor die spesiale tribunaal in ’n poging om die geld terug te kry.

Hy sê 18 sake is reeds afgehandel. Dit sluit in die vervolging van ses kontrakteurs ná die onregmatige verkryging van persoonlike beskermende toerusting ter waarde van R600 000 deur die Gautengse departement van gesondheid. Die departement word ondersoek vir meer as R200 miljoen se korrupsie.

“Daar is openbare verontwaardiging oor die betrokkenheid van prominente invloedryke persone (soos omskryf in die Wet op die Finansiële Intelligensie, Wet 38 van 2001) en hul onmiddellike familie wat baat vind by die verkryging van tenders van staatinstellings. Tans word dit nie as onwettig beskou nie en die behoefte bestaan aan die oorweging van bykomende wetgewing vir situasies waar staatsinstellings met mense in dié kategorieë kontrakte sluit,” sê Mothibi.

Hy sê alle staatsinstellings moet aan die wetgewing onderhewig wees.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, sê daar kan Donderdag nog inhegtenisnemings wees in verband met die wanbesteding van Covid-19-geld, maar het nie verder daarop uitgewei nie.

Die Valke het reeds 174 sake in verband met die wanbesteding van Covid-19-geld geïdentifiseer, waarvan 51 ondersoek en ses reeds voor die hof was.

Uit die 51 wat ondersoek word, hou agt verband met die Werkloosheidsversekeringsfonds se Covid-19-Ters-fonds, twee met die Solidariteitsfonds, drie met nieregeringsorganisasies en 38 met beweerde verkrygingsbedrog.

Lebeya sê die sukses van die ondersoeke is deels ook te danke aan die samewerkingsentrum wat op 18 Mei begin is. Die Valke werk hier saam met die NVG en SOE, asook die polisie, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Finansiële Intelligensiesentrum.

Meer oor:  Tenderbedrog  |  Korrupsie  |  Wetgewing  |  Tender
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.