Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Terugslag vir RET-faksie in proses om OB te verwyder

Die radikale ekonomiese transformasie (RET)-faksie in die ANC het nog ’n terugslag beleef omdat hy nie groot invloed het in die spesiale parlementêre komitee oor die moontlike verwydering van adv. Busisiwe Mkhwebane as openbare beskermer (OB) nie.

Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), het Woensdag in ’n verklaring die name van LP’s bekend gemaak wat moet ondersoek instel of daar gronde bestaan om Mkhwebane in die pad te steek.

Dr. Ntsikelelo Breakfast, politieke ontleder van die Nelson Mandela-Universiteit, sê uit almal op die komitee kan moontlik slegs Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor die polisie, ’n RET-ondersteuner wees. Sy het destyds in die kabinet van oudpres. Jacob Zuma as die minister van energie gedien.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: GCIS

“Daar is ’n paar nuwe gesigte en dit is onduidelik by wie hul lojaliteit lê. Die meerderheid blyk egter ondersteuners van pres. Cyril Ramaphosa te wees, en met die DA se hulp behoort hulle die proses deur te druk,” sê hy.

Die RET-faksie, met Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, aan die voorpunt, steun nie die verwydering van Mkhwebane nie. Hulle het egter in Maart in die NV bloedneus gekry toe ’n oorweldigende meerderheid van LP’s ten gunste van ’n verslag van ’n onafhanklike paneel gestem het wat die weg gebaan het vir Mkhwebane se moontlike verwydering.

In die verslag is bevind daar is prima facie-bewyse teen Mkhwebane dat sy haar aan “wangedrag en volgehoue onbevoegdheid” skuldig gemaak het.

Die EFF is gekant teen Mkhwebane se verwydering. Julius Malema, EFF-leier, en Omphile Maotwe, EFF-LP, dien wel in die komitee. 

Volgens Modise sal 26 LP’s van 14 verskillende politieke partye in die art. 194-komitee dien nadat partye hul name teen 31 Maart ingedien het. Slegs 11 van die komiteelede sal egter mag stem.

Modise sê die komitee se verslag, wat binne ’n “redelike tydperk” aan die parlement voorgelê moet word, moet bevindings, aanbevelings en redes bevat.

Die parlement sal daaroor debat voer en indien minstens twee derdes van LP’s stem ten gunste van Mkhwebane se verwydering, sal sy haar amp kwyt wees.

Die hele proses spruit uit ’n mosie wat Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, vroeër ingedien het.

Mazzone het Donderdag gesê dat sy DA-lede in die komitee opdrag gegee het om partypolitiek opsy te skuif en op die feite te fokus.

“Ek hoop dat ander politieke partye ook hul ideologieë sal los om in die beste belang van die land op te tree. Indien die proses slaag, sal dit die eerste keer in die geskiedenis wees dat die hoof van ’n hoofstuk 9-instelling deur die parlement verwyder word,” sê Mazzone.

Die komitee sal op sy eerste vergadering, wat nog nie geskeduleer is nie, ’n voorsitter verkies.

Die volgende 11 LP’s dien as komiteelede wat mag stem:

Doris Dlakude (ANC). Dlakude beklee sedert 2013 die pos van adjunkhoofsweep van die ANC. Sy is die gunsteling om as die voorsitter van die spesiale komitee aangewys te word. Sy is die afgelope 18 jaar betrokke in verskeie ANC-strukture, onder meer as die tesourier van die ANC-jeugliga in die Ehlanzeni-streek in Mpumalanga.
Plaasvervanger-komiteelid: Philly Mapulane (ANC). Mapulane is die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor hoër onderwys, wetenskap en tegnologie. Hy het van 2010 tot 2014 gedien as ’n LUR in die wetgewer van Noordwes. Hy was voorheen die tesourier van die ANC se provinsiale uitvoerende komitee.
Dr. Annelie Lotriet (DA). Lotriet is die DA se leier in die parlement. Sy het ’n doktorsgraad in hoër onderwys en was in die akademie bedrywig voordat sy in 2000 as raadslid van die DA in Manguang aangewys is. Sy het in ’n aantal provinsiale en nasionale komitees gedien.
Julius Malema (EFF). Malema is die stigter en leier van die EFF. Hy was voorheen leier van die ANC-jeugliga, maar is in 2012 uit die party geskors. Hy is nie ten gunste daarvan dat die OB uit haar amp verwyder word nie.
Mondli Gungubele (ANC). Gungebele is ’n voormalige burgemeester van die Ekurhuleni-metro. Van 1994 tot 2007 was hy hier ’n LUR van verskeie portefeuljes.
Corné Mulder (VF Plus). Mulder is die hoofsweep van die VF Plus en dien sedert 1994 in die parlement. Hy is ook hoof van sy party se komitee oor beleid en kiesers.
Tina Joemat-Pettersson (ANC). Pettersson is die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor die polisie. Van 2014 tot 2017 was sy die minister van energie en voor dit minister van landbou, bosbou en visserye. Sy is ’n voormalige lid van die Noord-Kaapse wetgewer en ’n voormalige tesourier van die ANC in dié provinsie.
Richard Dyantyi (ANC). Dyantyi is ’n voormalige LUR vir plaaslike regering en behuising in die Wes-Kaap.
Judy Hermans (ANC). Sy is ’n lid van die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid. Sy dien sedert 2019 as ’n lid van die NV.
Zandile Majozi (IVP). Sy is sedert 2019 lid van die NV en dien in die parlementêre portefeuljekomitees oor kommunikasie en die polisie.
Dr. Leon Schreiber (DA). Hy dien in die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare dienste en administrasie. Hy is ook die DA se woordvoerder hieroor en is ’n kampvegter vir Afrikaans.
Bekizwe Nkosi (ANC). Hy is die gesamentlike voorsitter van die parlementêre gesamentlike komitee vir etiek en ledebelange. Hy was tussen 1994 en 1996 adjunkpresident van die ANC-jeugliga en ’n voormalige streekvoorsitter van die ANC in Gauteng.
Plaasvervanger-komiteelid: Teliswa Mgweba (ANC). Sy dien in die parlementêre portefeuljekomitees oor minerale bronne en energie, asook vroue, die jeug en mense met gestremdhede. Sy was voorheen die streeksekretaris van die ANC in die Ekurhuleni-metro.

Meer oor:  Ob  |  Ret
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.